FAK Kunstefees 2016
FAK Kunstefees 2016
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met SA Expo Feesgids, bou voort op die sukses van groot kuier- en kultuurfeeste – soos KKNK, Innibos en Aardklop – en loots op 19 en 20 Augustus 2016 die eerste jaarlikse FAK Kunstefees, wat voortaan in Gauteng gaan nesskop.

“Alhoewel Afrikaans dikwels onder die spervuur is, is dit ook ’n taal wat aanhou groei en regoor die wêreld gepraat word. Deesdae kan jy selfs in die buiteland in Afrikaans skoolgaan of selfs Afrikaanse kanale of televisie kyk. Pretoria is een van die grootste Afrikaanse stede ter wêreld en dus die ideale tuiste vir ’n fees wat daarop gaan fokus om hierdie inheemse taal te bou,” sê feesorganiseerder, Johan Yssel. “Afrikaanse feeste, wat reg bestuur word, bars uit hulle nate. Afrikaanssprekendes is vrolike mense wat hou van kuier waar hulle taal ter sprake is. Daarom skep ons graag meer sulke geleenthede deur feeste nader aan dié mense te bring. Dit is dus hoog tyd dat Gauteng ook ’n lekker groot Afrikaanse fees kry.”

Die terrein van die kultuurryke Voortrekkermonument dien as die hartklop van hierdie feestelike geleentheid, is sentraal geleë en het genoeg spasie om duisende mense met gemak te hanteer. Alhoewel musiek vanjaar die hooffokus gaan wees, word daar reeds beplan om van volgende jaar af allerlei kunste, wat verhoogproduksies insluit, ’n volwaardige feesplatvorm in Pretoria te gee. 150 spesiale uitstallers – wat kuns- en kosstalletjies, bier- en wynareas en kindervermaak insluit – gaan van die begin af deel wees van die pret. Natuurbewustheidsprogramme, wat slang- en roofvoëlvertonings insluit, is ook deel van die program.

Feeshekke gaan elke oggend van nege-uur af oop wees en teen tienuur sal die eertse vertonings op die dagverhoog begin. Feesgangers kan daarna uitsien om gedurende die dag vermaak te word deur kunstenaar soos Armand – The Singing Cowboy met sy dansende perd, Izaan, Marius Dippenaar, Jason, Ronaldo, Maryna Knoesen en vele meer. Saterdag sal daar ook ’n spesiale koorfees wees waaraan sowat ’n duisend kinders gaan deelneem. “Koor-organiseerder, Natasha Smidt, het baie moeite gedoen om te verseker dat die beste kore deel is van hierdie geleentheid. Die wen-kore van verlede jaar se Sing in Harmonie-kompetisie op kykNET, Laerskool Voorpos, Laerskool Pierneef, Laerskool Stephanus Roos en Laerskool Anton van Wouw, is deel van die program. Laerskool Menlo Park, Laerskool Voorpos en Laerskool Stephanus Roos bring ook elkeen hulle junior- en senior-kore saam,” sê Johan.

Die fees sal Vrydagaand op ’n hoë noot afskop met ’n spesiale rock-konsert wat groot name, soos Francois van Coke, Anton Goosen, Saarkie, Beeskraal en Riaan van Rensburg, gaan insluit. Die vertoning sal reeds om 19h00 begin. Saterdagaand se hoofkonsert gaan ’n musiekskouspel wees wat die gehoor se asem gaan wegslaan. Gewilde name in die Afrikaanse musiekbedryf – soos Kurt Darren, Manie Jackson, Ricus Nel, Jakkie Louw, Jak de Priester, Arno Jordaan, Liza Brönner, Nadine, André Schwartz, George Longane, Jezelle en Lance James – gaan hulle grootste treffers, asook lekker saamsing FAK-liedjies op die verhoog deel. Lance James sal ook tydens hierdie geleentheid vereer word vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar