So onthou ons Koos du Plessis – 20 jaar later …

So onthou ons Koos du Plessis het onlangs verskyn en is ‘n huldeblyk deur verskeie kunstenaars aan die ontslape sanger en digter.

Alle liedjies op die album is oorspronklik deur Koos du Plessis geskryf, behalwe Steve Hofmeyr se bydrae, “Koos Doep”, wat uit sy eie pen kom.

Meeste van ons het reeds op een of ander stadium met Koos du Plessis se musiek of ‘n verwerking daarvan kennis gemaak. Wat hier volg is verwysings na ‘n paar van die liedjies op So onthou ons Koos du Plessis.

“Kinders van die wind”, vertolk deur Laurika Rauch, is in 1968 geskryf, hoewel dit eers in 1970 ‘n treffer vir Laurika Rauch geword het en uiteindelik op Koos du Plessis se eerste album, Skadu´s teen die muur, verskyn. Die liedjie was in 1979 nommer een op Radio 5. Die pianis Richard Clayderman het ook ‘n musikale weergawe van die liedjie opgeneem in 1982.

Skadu´s teen die muur, verskyn in 1980. Die temalied hiervan word op So onthou ons Koos du Plessis deur Mathys Roets gesing. Ook op Skadu´s teen die muur is “Sprokie vir ‘n stadskind”, hier gesing deur sy ou vriend Jannie du Toit, en “Skielik is jy vry”, gesing deur Mathys Roets.

“Wie weet”, hier ‘n duet van Theuns Jordaan en Koos du Plessis se dogter Karla du Plessis, is in 1980 as kenwysie vir die televisie-program Jopie Adam geskryf.

Koos du Plessis se tweede album was As almal ver is en het in 1981 verskyn. Laurika Rauch sing die titelsnit.

Sy derde en laaste album voor sy dood was Herbergier in 1982. Hy was besig om te werk aan ‘n vierde album toe hy in 1984 verongeluk op die ou Krugersdorppad in Knoppieslaagte.

In 1996 het Nick Taylor Die Vierde Horison laat verskyn met Koos se vertolkings van sy meer onbekende liedjies. Uit die album sing Karla du Plessis “Splinterruit” en Amanda Strydom sing “Woorde”.

Ander liedjies op die album is “Vermiste mense” (Theuns Jordaan), “Gebed” (Dozi), “As jy my kon volg” (Karla & Koos du Plessis), “Hier´s ons almal tesaam” (Johannes Kerkorrel), “Teen skemer” (Lucas Maree), “Boshoek” (Mathys Roets), “Spore op die maan” (Johannes Kerkorrel), “Onthou jy nog” (Theuns Jordaan) en die instrumentale “Groet sonder woorde”.

Hierdie CD verdien sy plek in my versameling.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar