St Tuiglik

Suikerbos Uitgewers stel op 15 & 16 Maart die debuutbundel van Bronkhorstspruit se digter, Piet de Jager, by die Centurion Teater vry. St Tuiglik is die naam van die produksie en Ouhout is die bundel se naam. Dit beloof ‘n opwindende kombinasie van ‘n wye spektrum van kunsvorme en kunstenaars te wees. Wat kunstenaars betref, is die ‘n unieke samestelling van ‘n rolverdeling tussen die divas, Laurika Rauch en Este Pienaar, en Afrikaans se Big Band, Klopjag, (ses musikante wat letterlik met ‘n musiekwinkel vol klassieke en moderne instrumente op die verhoog klim), genoeg om die verbeelding aan te gryp.

De Jager, wat bedags advokaat in Pretoria is, se jarelange verbintenis met Afrikaanse kuns en musiek word weerspieël in die produksie.

Die internasionaal gesogte skilderye van die Vrystaatse meester, Zerk de Villiers, is die illustrasies van verse in die bundel en al die skilderye wat gebruik is, word (‘n eerste vir Tswane) in lewende lywe vanaf 13 tot 16 Maart in die Wynkelder (onder die Teater) uitgestal.

Vir bykans drie jaar het die skilder en digter oor simbole en die betekenis van dinge gedebatteer. Die produk is ‘n formidabele versameling van kunswerke wat elkeen aan ‘n vers, en veral die simbole of metafore wat daarin gebruik is, verbind word. Die skilderye is amper almal aan versamelaars verkoop, maar net om vyftien werke van hierdie skilder so saam te sien, is opsigself ‘n belewenis.

Protea Boekhuis/Suikerbos Uitgewers beplan ‘n bundel van hoë gehalte wat tipografies en andersins die inhoud van hierdie twee kunstenaars se werk sal komplimenteer.

Die musiekproduksie, St Tuiglik, word in die Centurion Teater aangebied deur die Boere Beatles, Klopjag en Laurika Rauch en Este Pienaar. Die werk is ‘n musikale samevatting van temas in die bundel wat onder andere hulle toonsettings van die verse insluit.

Piet de Jager se werk was die onderwerp van die geslaagde produksie, Tussen2, in die Musaion by Tukkies, en die Stellenboschers se kaberet, Ligloop, in Johannesburg, Pretoria en by Innibos. Ouhout is vanjaar op 8 Maart in die HB Thomsaal, by die Woordfees in Stellenbosch, en daarna by die KKNK onder leiding van die bekroonde jong regisseur Adriaan Meyer met Bianca, Schalk Joubert, Frieda van den Heever en ander bekende Kaapse kunstenaars op die planke gebring. Van sy werk is ook ingesluit in Droogland wat Jan Blohm, Sallas de Jager(Klopjag) en Niel (Bart) Sandilands met soveel sukses in Pretoria aangebied het en nou ook KKNK toe neem.

Lewer kommentaar

Leave a Reply