Hedda, die dogter van ‘n generaal, is getroud met die stompsinnige Tesman en voorsien ‘n lewe van middelklas-verveling wanneer hulle terug keer van ‘n wittebrood wat hulle nie kon bekostig nie na ‘n huis wat hulle nie kan bekostig nie.
Stelselmatig word Hedda in die kloue gedryf van haar bewonderaar, regter Brack, wat graag ‘n ménage à trois sou wou bewerkstellig. Maar dan verskyn ‘n vorige liefde – die briljante, maar losbandige Ejlert Lövborg – wat met Tesman meeding om ‘n akademiese pos.
Na ‘n dronk party beland die manuskrip van Lövborg se verhandeling in haar hande en sy verbrand dit. Sy raak vasgevang in die onthulling daarvan en haar romantiese planne is aan skerwe. Dit blyk dat daar net een uitweg is …
Hedda Gabler is ‘n ondersoek na die mens as slagoffer van oorerwing en omgewing; die mens as irrasionele en hulpelose wese vasgekeer tussen twee duisternisse: dié in homself en dié wat hom omring. Die rol van Hedda word algemeen beskou as een van die grootste vroulike dramatiese rolle wat ooit geskryf is – die vroulike Hamlet. Sy kan, na gelang van die interpretasie as tragiese heldin of booswig beskou word.
Henrik Ibsen word beskou as die vader van moderne drama en was die leidende figuur van ‘n renaissance in die kunste wat teen die einde van die negentiende eeu in Noorweë, sy geboorteland, plaasgevind het. Hy en die Russiese dramaturg Anton Tsjechof het die toneellandskap vir altyd verander en ‘n groot invloed uitgeoefen op moderne skrywers soos Tennessee Williams en Arthur Miller.
André Stolz het die baie suksesvolle produksie van Tsjechof se Oom Wanja geïnisieer. Wywe, Weduwees en Woede, drie eenakters wat deel was van die Tsjechof-fees, het landwyd voor vol teaters gespeel. 2004 was die Tsjechofjaar. 2006 is Ibsen se beurt en Hedda Gabler vorm deel van die Ibsen-jaar (die herdenking van sy dood in 1906),” sê Stolz. “Dis ‘n opvoering met briljante jong spelers, ‘n nuwe, vars vertaling en dit behoort ook by ons jonger feesgangers aanklank te vind.”