Die talentvolle kunstenaar Tino, afkomstig uit Zimbabwe en tans woonagtig in Stellenbosch, is gereed om sy nuwe liedjie “Tassies Pak” op 7 April 2023 op alle digitale musiekplatforms bekend te stel. Hierdie nuwe bekendstelling is die opvolg na sy baie suksesvolle debuut album Sterrekind, en enkelsnit “Afstand” wat nommer een op die RSG treffersparade behaal het.

“Tassies Pak” is ‘n kragtige liefdeslied wat die diepte van menslike emosies en die onbekende faktore van die liefdeswêreld verken. Dit is ‘n unieke rock-pop komposisie met Tino se kenmerkende warm stem.

Tino het sy deurbraak as musikant gemaak deur die wêreld te verower met sy TikTok videos. Hy is raakgesien deur die legendariese sanger & liedjieskrywer Jan Blohm, wat hom onder sy vlerk geneem het om sy loopbaan as musikant te begin.

Die opvolg enkelsnit, “Tassies Pak,” wys ons dat Tino nie net ‘n one hit wonder is nie, maar dat hy hier is om te bly. Met die sukses van sy debuut album, kan aanhangers verwag dat die nuwe liedjie net so groot sal wees. Die unieke styl van Tino se musiek maak hom ‘n kunstenaar wat maklik onderskei kan word van die res.

Die musiekvideo vir “Tassies Pak” is reeds op YouTube. Dit is ‘n visuele uitbeelding van die liedjie, wat die emosie en die krag van die woorde in beeld bring.

Tassies pak

“Ek is opgewonde om my musiek met die wêreld te deel en kan nie wag om te sien hoe mense reageer op ‘Tassies Pak’,” sê Tino. “Dit was ‘n eer om te sien hoe ‘Afstand’ so goed ontvang is, en ek hoop dat hierdie liedjie dieselfde sukses sal hê. Ek is dankbaar vir die ondersteuning van my aanhangers en hoop om hulle te verras met meer musiek in die toekoms.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply