Karen Zoid, Neil Sandilands en Early B, vat raak in ’n nuwe liedjie wat vandag uitgereik word. “Toe die wêreld stil gaan staan” is `n hoendervleis- treffer oor die vreemde tyd waarin almal in die wêreld hulle tans bevind.

Zoid vertel dat die lied baie toevallig gebeur het: “Neil het vining kom hallo sê by my studio, terwyl hy hier was op ’n kuier van Amerika af, letterlik ’n dag voor die President se aankondiging oor inperking. Ons het gesels oor die virus en die wêreld wat nou vir ewig gaan verander. Wie sou kon dink dat ons in ons leeftyd ’n globale pandemie sal ervaar soos in die vorige eeu met die Spaanse griep.  Beide my ouma – en oupagrootjie het in daardie tyd van die groot griep gesterf. Ons het impromptu gesit met ’n kitaar en ’n liedjie geskryf.

Nadat President Ramaphosa daardie Sondagaand die lockdown aankondig het,  het ek besef ons sal vining moet planne maak om die liedjie op te neem, terwyl ons nog kan. Toe almal druk besig was om laaste sake af te handel, toiletpapier te koop en inkopies te doen, het ons studio toe gegaan. Ek het Early B gevang net voor hy die pad Port Elizabeth na sy familie toe gevat het.

Dit is nogal iets besonders om te kan lewe in ’n tyd waarin letterlik almal in die hele wêreld deur dieselfde ding gaan en dieselfde problem in die oë staar. Dis ’n ongemaklike rustigheid waarin ons onsself bevind. Vir my is daar twee dinge wat my in hierdie tyd gefokus hou: Die eerste is dat ons nou net een dag op ’n slag kan leef en die tweede, is soos hulle in die 60’s gesê het, “Die Liefde is Alles”. Ek hoop dat die liedjie vir mense sal laat onthou dat ons almal aan mekaar gebind is. Ons is saam hierin.”

“Toe die wêreld stil gaan staan” is vandag op digitale platforms beskikbaar. (Apple Music, Google Play, Spotify, Deezer, Joox)

Vervaardigers: Karen Zoid & Theo Crous

Orkes:  Jonno Sweetman, Schalk vd Merwe & Henry Steel

Zoid en haar span is hierdie week met ’n Toyota Top-orde Woord-trofee bekroon vir haar Karen Zoid 20 year Pops vertoning saam met die Kaapse Filharmoniese orkes by Toyota US Woordfees in Maart 2020.  Volgens die Woordfees word hierdie prys toegeken aan ’n musikant of aanbieding van uitmuntende gehalte wat buite die tradisionele kategorieë van kontemporêre musiek val.   Nie net was dit die topverkoper-aanbieding by die fees nie, dit het ook kontemporêre en klassieke musiek naatloos geïntegreer. Dit was ’n vertoning wat geïnspireer, vermaak en verruim het – ’n toepaslike viering van Zoid se 20 jaar in die bedryf.

Kyk uit vir die sesde reeks van Karen Zoid se gewilde gesels- en musiekprogram Republiek van Zoid Afrika wat vanaf 16 April Donderdae 20h00 op kykNET uitgesaai word.  In die nuwe reeks vergroot President Karen haar reeds indrukwekkende kabinet met nóg glansmense, sporthelde, legendariese sangers en ander beroemdes en berugtes. Van die bekendes wat in Karen se Republiek aantree, sluit in Derek Watts, Denise Newman, AB de Villiers, Sandi Schultz, Max du Preez, Nico Panagio, Jeannie D, Stef Bos, Spoegwolf en Elandré Schwartz.

Lewer kommentaar

Leave a Reply