Van Go, ’n gemeenskap musikante wat gedurende inperking in 2020 bymekaargekom het om musiek te maak, het reeds impak gemaak met hulle enkelsnitte, “Ek is nou vry” en “Die heel begin” wat in 2021 uitgereik is.

Nou vra Van Go luisteraars om aksie te neem met die vrystelling van hulle volgende snit, “Die hele wêreld weet.”.

Hierdie alternatiewe Grunge Rock proteslied, uit die pen van David van Niekerk (voorsanger, mede-vervaardiger, liedjieskrywer en video-vervaardiger), gaan oor die waansinnige vernietiging van die natuur in    die naam van winsbejag en gemaksug.

Die vrystelling was ten bate van Wêreld Natuurbewaringsdag.

Alhoewel Van Go David se breinkind is, werk hy saam met ander musikante om ’n onvergeetlike eindresultaat te skep. Jaco Mans is op hierdie enkelsnit die meester agter die elektriese- en baskitaar.

“My skryfstyl is oor die algemeen filosofies en ietwat melancholies  . . . hierdie snit is egter ‘n kreet van woede oor die sinnelose gejaag na geld en mag, ongeag die massiewe impak daarvan op Moederaarde.”

David hoop dat luisteraars inspirasie hieruit sal put en ‘n verskil sal maak. “Neem jou eie beker saam as jy weer daai cappuccino gaan koop, begin ‘n saamryklub, ruil klere uit met jou vriende. Reël ‘n skoonmaak van jou buurt, ondersteun ‘n natuurbewaringsorganisasie met jou tyd, ’n donasie of met jou vaardighede. Plant ‘n boom, maar wag eerder tot September, wanneer dit die regte tyd is daarvoor. Vra die vraag by jou werksplek – wat kan ons doen om meer omgewingsvriendelik te wees?”

Met “Die hele wêreld weet.” bewys dié musiekbeweging weereens dat hulle nie net passievol is oor musiek nie, maar dat hulle deur hulle musiek ook ‘n verskil kan maak aan fundamentele sake wat elkeen diep aanraak.

Van Go

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply