Gedigte in McGregor vind vanaf 26 tot 28 Augustus plaas. Daar is ’n groot verskeidenheid interessante en dinamiese digters wat vanjaar hul werke gaan deel.
In die Afrikaanse kategorie kan gedigteliefhebbers uitsien na voorlesings deur onder andere Margot Luyt, Koos van der Merwe, Daniel Hugo, Diana Ferrus, Hermien de Vos en Lara Kirsten. Engelse digters sluit James Matthews, Patricia Schonstein, Kobus Moolman, Khadija Tracey Heeger, Harry Owen, Elisa Galgut en Vangile Gantsho in, om maar net ’n paar te noem. Louise Westerhout, die wenner van verlede jaar se gedigte kompetisie, is ook vanjaar op die verhoog. Daar is ook digters soos Margaret Clough en Stephanie Saunders wat jou eindeloos sal vermaak met hul fyn humor. Dan is daar ook ’n paar groepe wat gaan optree, onder andere UWC poets, Lingua Franca, Spoken Word Movement en Mothertongue.
Al die betrokke digters bring iets baie spesiaal na Gedigte in McGregor. Hier `n paar voorlesings om onder andere na uit te sien: (Vir `n volledige lys van al die digters wat gaan deelneem gaan na https://mcgregorpoetryfestival.blogspot.co.za/)

Koos van der Merwe se aanbieding heet Hoekom dan gedigte? Hoekom iets met ’n gedig wil sê? As jy dan kan e-pos, tweet, SMS of gewoon net kan praat, hoekom dan gedigte? Koos reis saam met jou na plekke waar jy weet gewone woorde nie genoeg is nie. Soms voel die hart te diep om net gewoon te sê. Soms skyn die lig te helder vir ’n alledaagse sin, en soms is dit te donker vir praatjies maak. Die hart is só dat dit soms niks kan sê en niks kan hoor nie … as net gedigte. Bo en behalwe Hoekom dan Gedigte? sing Koos van der Merwe ook Bob Dylan in Afrikaans as deel van die naweek se program.
Margot Luyt sê oor haar voordrag: “Poësie voer my dikwels so ver weg dat my eie angs, verlange en melancholie verflou. Die woorde, die emosie ontvoer my na plekke wat ek nie ken nie, maar dikwels oor droom. Plekke waar ek myself kan omvou met die atmosfeer van die vers. Kom luister na verse oor liefde – alle soorte liefde. Liefde vir die ongebore kind maar ook liefde tussen volwassenes en bejaardes.

Die Mothertongue Jeugteater groep: Hierdie kreatiewe groep vermeng gedigte, musiek en dans in hulle voordrag. Al die materiaal is deur die groep self geskryf en saamgestel en word in Engels, Afrikaans en Xhosa aangebied. Sara Matchett is die direkteur van die groep wat bestaan uit Melenie Jakobs en Ashley Seconds (La Chasseur Farm), Jaydene Lekay (McGregor), Denise Gandu (Dwarswater), Sandile Kosana, Khayalethu Mkorwana en Simphiwe Mangqasa (Nkqubela).
McGregor is die perfekte dorpie vir die viering van digkuns. Die lokale is loopafstand van mekaar en die plattelandse sjarme van die dorp dra by tot ’n unieke ervaring. Die optredes sal plaasvind in die sielvolle tuine van Temenos, ’n lieflike agtertuin Amfiteater, die Wahnfried Teater, Edna Fourie Gallery, The Green Room en The Lion House. Carol’s Pub is die plek om te wees vir die Voices on Fire kroeg-program. Terwyl jy `n lekker glasie wyn drink, sal digters ’n klokkie lui en spontane voorlesings doen.
Daar is ook vanjaar weer ’n aanbieding van die gewilde Open Mic-sessies. Hierdie sessies word gelei deur Hugh Hodge. Enige iemand wat graag sy/haar gedigte wil voordra is welkom. Die wat wil meemaak kry ’n nommer en wanneer die nommer gelees word sal hy/sy ’n kans kry om ’n gedig te deel. As daar tyd is, kan dieselfde persoon ook meer as een gedig voordra. Almal is welkom om dit by te woon. Geen kaartjies of besprekings is nodig vir die Open Mic-sessies nie.
Of jy nou oor akademie skryf of net oor hoe baie jy van jou koffie hou, jy en jou woorde is welkom. Kom kuier saam met ons en geniet die samesyn en woordkuns van ons land se wonderlike digters.
