Dit was pret, dit was plesier en dit was ’n malligheid op note. Toe die briljante musikant en musiekvervaardiger Loki Rothman gesê het hy gaan drie alledaagse mense kies om van hulle popsterre te maak, het heelparty gewonder of dit moontlik is. Nou, dertien weke later, het die deelnemers nie net ’n popliedjie agter hulle naam nie, hulle het elkeen ’n volwaardige musiekvideo, wat individueel alreeds meer as 10 000 klieks op Youtube het, om mee te spog. En die beste van alles? Dié liedjies is nou beskikbaar om af te laai en te stroom op Spotify, Apple music, Deezer en die videos is beskikbaar op kykNET se Youtube-kanaal.

Edó Mostert, ’n professionele troufotograaf wat deur sy hele skoolloopbaan sanglesse geneem het, was Suid-Afrika se eerste manlike model met ’n voller figuur by ’n vooraanstaande modelagentskap in Kaapstad. Menseverhoudinge oor alle grense heen is een van sy groot passies in die lewe.

EDÓ

“Sjoe, dit is so moeilik om te beskryf hoe baie hierdie program, sy mense en my nuwe fans vir my beteken,” sê Edó. “Elke aspek van die program het my net meer en meer respek vir die musiekindustrie en die span agter die bekende gesig gegee. Die liedjie en musiekvideo is iets wat ek nog nooit in Suid-Afrika ervaar het nie en ek hoop dit is ’n baanbreker in elke opsig en dat dit die Afrikaanse LGBTQI+-gemeenskap wys dat daar lig aan die einde van die tonnel is. Kom ons wees elkeen ’n “queen B bitch” van ons eie realiteit en “werkit, boetie, werkit” vir die hele nuwe jaar!” Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar het gehelp met lirieke op hierdie opwindende liedjie.

Michelle Mountjoy, wat in Amerika gebore is, maar in Plettenbergbaai grootgeword het, se passie was nog altyd musiek.

“Wat dit vat was ongelooflik,” sê sy. “Dit het my heeltemal uit my doppie geruk en ’n soort selfvertroue gegee wat nooit weer by my weggeneem gaan word nie. Ek is oor 11 weke gevorm in nog meer van myself as tevore. Ek het baie gehuil, maar meer gelag. Dit het my gehelp om te genees en te weet: Al is dit soms moeilik, gaan ek altyd deur die lewe sing.

“My musiekvideo wys baie mooi hoe my lewe was voor Wat Dit Vat en hoe dit nou is. Dat dit met die wêreld gedeel word, gee my hoendervleis. Ek bid dat dit vir baie mense hoop sal gee. Ek voel geëerd om die kans te kon kry om hierdie pad saam met ongelooflike mense te stap. Hierdie is net die begin!” Michelle se Sing jou lied-musiekvideo spog ook met ‘n paar bekendes soos Minki van der Westhuizen en vriendinne.

Sing jou lied

Joseph Mitchell, die oudste van die deelnemers en ’n afgetrede staatsamptenaar, doen graag drama vir ’n ekstra inkomste en tel sing en tuinmaak onder sy stokperdjies.

“Gooi jou net uit aan die anderkant. Dit kom uit die Bybel toe die dissipels saam met die Here see toe is en niks gevang het nie en hy vir hulle gesê het hulle moet die net aan die anderkant van die boot gooi,” sê hy oor sy pad tot hier. “Drama was altyd my groot liefde en ek sou nooit kon droom dat ek op 61 ’n musiekvideo sou maak nie. My drome het begin vaag raak, ek het gedink die deurbraak gaan nooit gebeur nie en toe kom hierdie uitdaging op my pad. Dit was die wonderlikste ondervinding. Ek kon net myself wees en dit geniet. Elke dag was ’n plesier!” Nog ‘n bekende gesig is te sien in hierdie humoristiese musiekvideo. Early B wat ook tydens die program as mentor opgetree het, verskyn as die laaitie in Uncle Joe se musiekvideo: Like nie die Laaitie nie.

Ek laaik nie die laaitie nie

Voor-en agter die skerms was bekendes in die musiekbedryf betrokke om die drie deelnemers te help met hul onderskeie videos. Pierre Greeff en Hunter Kennedy ondermeer van die Heuwels Fantasies het Loki ondersteun in verskillende dele van die proses van die bestuur van hul moontlike loopbane, van stroomdienste tot lirieke. Die liedjies is op Apple Music, Spotify en Deezer beskikbaar om te luister en af te laai. Loki Rothman maak op 30 Januarie 2022 op die Kwela bank bekend watter een van die deelnemers die meeste ondersteuning met hul liedjie en video ontvang het.

Lewer kommentaar

Leave a Reply