Die sangeres en kunstenaar Lucinda se nuwe enkelsnit “Weerloos” is onlangs uitgereik. Die video van die liedjie is ’n prettige animasie-storie wat Lucinda self gemaak en geredigeer het.
Lucinda vertel dat sy graag ’n musiekvideo wou maak wat mense laat glimlag. “Ek wil hê mense moet vir ’n paar minute in ’n sprokie kan wegraak en dat dit hulle hopelik met ’n lekker gevoel sal agterlaat. Die storielyn handel oor twee karaktertjies wat mekaar met ’n flitslig verken, asof hul dieper kyk na die binneste landskappe. Hulle skyn ’n lig op die geliefde en sien die mooiste dinge raak. Ek het eers die poppies van papier gemaak en het sommer ’n vinnige studio gebou deur my koffie tafel bo op ’n stoep tafel te plaas, ’n groot lig onder die koffie tafel vas te plak en ’n tipe van ’n verhoog te bou waarop die storie kon af speel. Ek het alles met ’n app op my selfoon geskiet. Die video bestaan uit 1601 foto’s. Met elke foto het ek die poppies net ’n paar mm geskuif en as dit dan as een gespeel word lyk dit soos ’n gladde beweging. Dit was baie pret om hieraan te werk en ek sal so iets sommer gou weer doen.”
Lucinda het die lirieke en melodie vir “Weerloos” geskryf nadat Bouwer Bosch vir haar die musiek gestuur het. Die liedjie is toe by Bouwer se studio opgeneem en daarna vir die talentvolle Peach van Pletzen gestuur vir die vermenging en finale klank. Lucinda se dat dit vir haar altyd spesiaal is om saam met Bouwer te werk: “Ons het in 2019 ’n EP saam uitgegee met die titel “Waar die see die kus omhels.” Ek het al vreeslik baie by hom geleer.”
“Weerloos” gaan oor hoe moeilik dit kan wees vir mense om mekaar te leer ken. In verhoudings, en veral ook ons verhouding met onsself. Dit gaan oor hoe mens treetjie vir treetjie iemand toelaat om dieper te delf in wie jy is, en dat dit ’n weerlose proses is om ’n persoon toe te laat om jou te leer ken. Die koor is maar net ’n klompie verskillende karakters wat mens sou teëkom in jou daaglikse lewe. Almal is anders en almal het ’n plek op ons aarde.”
Lucinda is ook die voorsanger van die groep Die Melktert Kommissie.
Stroom of laai “Weerloos” hier af: https://music.apple.com/za/album/weerloos-single/1521959072
