Op Sondag 29 Junie weerklink die statige Nederburg-herehuis opnuut met van die mooiste melodieë wat al vir stem en klavier geskryf is.

Dié uitvoering deur vooraanstaande Suid-Afrikaanse musici, sopraan Zanne Stapelberg en pianis Albie van Schalkwyk, lui die gewilde jaarlikse Nederburg Konsertreeks in.

Die program is ’n kaleidoskoop van liedere van dwarsoor die wêreld en sluit pragtige kunsliedere in, asook kabaretliedjies en bekoorlike toonsettings van Afrikaanse lirieke en gedigte. Die uitvoering begin op ’n Franse noot, met werke gekomponeer deur Francis Poulenc en Erik Satie, waarna Amerikaanse komponiste soos Leonard Bernstein en Samuel Barber aan die beurt kom. Gewilde melodieë deur legendariese komponiste van musiekblyspele, Cole Porter en George Gershwhin, sal die eerste helfte afsluit.

Die kenmerkende klanke van Kurt Weill, ’n veelsydige Duitse komponis wat in 1933 die Nazi-regime moes ontvlug, gee die toon aan vir die tweede helfte. Die res van die program word gewy aan die Afrikaanse luisterlied met onder meer Ek loop die pad al lank, my lam, soos deur sangeres Amanda Strydom bekend gemaak. Albie Louw se vernuftige toonsettings van Philip de Vos se pittige verse sluit die program af.

Kaartjies kos R200 en sluit Nederburg wyne in, asook ’n smaaklike vingerete ná die uitvoering. Om te bespreek, bel 021 809 8412 gedurende kantoorure, of stuur ‘n e-pos na concerts@distell.co.za.

Zanne Stapelberg
Zanne Stapelberg
Zanne Stapelberg (sopraan) en Albie van Schalkwyk (pianis) se optrede by die Nederburg Konsertreeks, ondersteun deur die Distell-stigting, vind plaas op Sondag 29 Junie om 17h00. Adres: Die Herehuis, Nederburg-landgoed, Sonstraalweg, Dal Josaphat, Paarl.

3

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar