Saad moet op goedgedreineerde sanderige kweekmedium in saadbakke gesaai word. Alle saad behalwe die kleinste moet met ‘n dun lagie gemaalde bas bedek word. Plaas die saadbakke in ‘n plek met goeie ventilasie. Die beste tyd om te saai is laat somer tot vroeë herfs wanneer die nagtemperatuur van 4°C tot 10°C wissel en die dae nog warm is, 15°C tot 25°C. Hierdie nag- en dagtemperature is baie belangrik omdat dit ontkieming meebring. Ontkieming kan 3 tot 6 maande neem, miskien ‘n bietjie langer as die temperature laer is.
Saailinge kan normaalweg na 6 weke tot 3 maande in houers uitgeplant word. Die jong plantjies moet in ‘n plek met goeie ventilasie gehou word en gereeld natgemaak word. Gedurende warm toestande is dit beter om die plantjies in ligte skaduwee to hou.
Ontkieming word aansienlik verbeter deur rookbehandeling. Dit kan wees in die vorm van rook wat in ‘n lugdigte tent gepomp word waar die saadbakke is. Gee die rook kans om op te klaar en maak dan die saadjies nat. Daar is ook spesiale rookpapier te koop wat gebruik kan word (Instant Smoke Plus Seed Primer). Volg die aanwysings wat saam met die papier kom.
(Foto geneem deur Andrew Massyn in die Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kirstenbosch, Kaapstad.)

