A***** skryf:
“Ek will graag die volgende weet:
1) Op watter ouderdom moet ek vir my dogters vertel van al die nodige dinge?
2) Wat presies moet ek hulle meedeel?
3) Kan jy my die nodige inligting gee om aan hulle te vertel op ‘n manier wat hulle kan verstaan.”
Ben:
Hierdie is ‘n warm patat vir menige ouer. Wat baie ouers nie weet nie is dat kinders in Suid-Afrikaanse skole reeds vroeg van voortplanting leer. Wat ek probeer sê is dat ons hierdie gesprekke dalk baie vroeër moet hê as wat ons dink. Na my mening is dit baie beter dat die boodskap eerste by monde van die ouer kom.
Dit help nie om doekies om te draai nie. Onthou dat jou kinders ook ander bronne van inligting het. Daar is hul maats, boeke en die Internet. Indien hulle met jou hieroor praat is dit ‘n moontlike aanduiding dat hulle jou mening respekteer, maar dit kan ewe maklik verander as hulle uitvind jy het gelieg of nie alles vertel nie.
Jy moet ook duidelik kan oordra dat jou ervaringsveld met betrekking tot die onderwerp beperk is. Sorg ten minste dat jy die fisiologie onder die knie kry voor jy tot die gesprek toetree.
Ek wil nie ‘n definitiewe ouderdom vaslê vir hierdie gesprek nie. Soms word ons gepeper met vrae deur ‘n klein kindjie. Die gesprek begin dan reeds. Nie dat jy skielik oor alles moet praat nie! Dit gee jou wel ‘n aanduiding van wat hulle weet en graag wil weet. Daarna kan jy op ‘n jaarlikse basis uitwei oor die onderwerp.
Indien die kind se tienerjare aanbreek en daar was nog nie ‘n gesprek nie is die tyd ryp. Sommige navorsers beweer dat die gemiddelde Westerse kind nou reeds op 11 seksueel aktief is. Wat presies die realiteit is sal ek nie kan sê nie, maar ek sal veilig speel en sorg dat ek reeds op die ouderdom van 10 my eerste gesprek gehad het.
Belangrike onderwerpe vir bespreking:
- Fisiese veranderinge
- Menstruasie
- Seuns, byvoorbeeld hul fisiese kenmerke en hoe hulle seksueel opgewek word
- Gemeenskapskwessies met betrekking tot seks, byvoorbeeld wat is seksuele losbandigheid in die oë van die gemeenskap
- Seksualiteit
- Seksueel oordraagbare siektes, byvoorbeeld HIV/Vigs!
Praat in ‘n taal wat vir jou gemaklik is. Jou storie gaan legitiemiteit verloor as jy jou skielik wil voordoen as jonk en cool. Onthou hulle ken jou!
In meeste gevalle sal hulle vra indien hulle nie verstaan nie, maar moet nie verbaas wees as hulle in die begin bietjie ongemaklik voorkom nie. Dit is ook baie belangrik dat jy nie ‘n bohaai maak as hulle kennis oor die onderwerp jou skok nie. Hou die kanale vir kommunikasie oop.
Dit is effe vergesog om te dink dat een gesprek een persoon(tjie) se seksuele aktiwiteite vorentoe kan bepaal. Ek dink dit help wel om as riglyn te dien vir iemand wat basies in die donker rondtas.
Lesers wat reeds hierdie pad gestap het kan gerus van hulle laat hoor.

