Kameelperde is bekend vir hul hul lang nekke. Die diere word 4,3–5,7 m lank. Die bulle is effens langer as die koeie. Die gemiddelde kameelperdbul weeg ongeveer 1 200 kg en die koei is aansienlik ligter met 830 kg. Volwasse kameelperde kan so vinnig as 50 km/h hardloop.

Kameelperde kan goed hoor en ruik. Hulle kan hul neusgate toemaak om hul teen miere en sandstorms te beskerm. Die beweegbare tong is donkerpers, ongeveer 45 cm lank en word gebruik om blare mee te gryp asook om die kameelperd se gesig mee skoon te vee.

Die kameelperd se pels bestaan uit ‘n ligbruin agtergrond met donkerbruin tot oranje kolle daarop. Kameelperde kan aan hulle kolle uitgeken word, aangesien daar nie twee kameelperde met presies dieselfde kolle is nie. Die kleurpatroon dien waarskynlik as kamoeflering. Onderkant sy hare is die vel meestal grys. Die dik vel dien ook as beskerming teen dorings. Die stert is omtrent ’n meter lank en eindig in klossie hare wat gebruik word om vlieë en ander insekte mee weg te jaag. Beide die bulle en koeie het twee kort horingatige groeisels op hul koppe. Dit is nie horings nie, maar kraakbeen-groeisels wat deel van die kopbeen uitmaak en met vel en hare bedek is.

Die nek is baie lank, gewoonlik tussen 2 en 2,4 m lank. Tens spyte hiervan het ‘n kameelperd nog steeds net 7 nekwerwels (soos ander soogdiere ook). Hulle nekwerwels is egter baie groter en kan tot 30 cm lank wees. Hierdie verlenging in die nekwerwels vind meestal eers na geboorte plaas, aangesien dit andersins baie moeilik vir die ma sou wees om geboorte te skenk.

Na ‘n draagtydperk van 14 tot 15 maande word een kalf gebore, gewoonlik tussen Oktober en Januarie. Net soos beeste is kameelperde ook herkouers. Hulle het uitsonderlike sterk spiere wat hul slukderm se beweging beheer. Dit word benodig om die kos van die maag na die mond op te lig tydens herkouing. Hulle kan tot 30 jaar oud word.

Kameelperde kom in verskeie streke van Afrika voor, waar hulle veral in oop bosveld of grasveld aangetref word. Sommige spesies, soos die Angolese kameelperd, kom egter ook in woestynklimate voor.

Hulle is herbivore en eet die blare en fyn takkies van bome, met ’n voorliefde vir doringbome. Soms eet hulle egter ook struike, gras en vrugte. ’n Gemiddelde kameelperd eet ongeveer 34 kg plantmateriaal per dag. Indien daar water beskikbaar is, drink hulle ten minste elke drie dae. Hulle wei meestal gedurende die eerste en laaste daglig-ure en herkou hierdie kos dan vir die res van die dag en nag. Saans herkou hulle terwyl hulle lê.

Kameelperde is stil, saggeaarde diere wat gewoonlik in troppe leef van minder as 40 diere voor. Ouer bulle kom soms alleen of in pare voor. Hulle is nie territoriaal nie. Kameelperde word dikwels gesien in die geselskap van sebras en blouwildebeeste en selfs volstruise.

Hoewel kameelperde nie aggressief is nie, kan hulle baie hard met hul voor- en agterpote skop wanneer hulle aangeval word. Leeus maak op jong kameelperde jag, maar hul dik vel, geweldige krag en die dodelike skopppe maak van hulle gevaarlike diere om as prooi uit te soek. Gevolglik word hulle in ’n groot mate uitgelos deur roofdiere.

Twee kameelperde in die Ithala-wildreservaat in noordelike KwaZulu-Natal, Suid-Afrika. (foto: Luca Galuzzi, 2004)
Twee kameelperde in die Ithala-wildreservaat in noordelike KwaZulu-Natal, Suid-Afrika. (foto: Luca Galuzzi, 2004)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply