Aardklop hoorbaar gemaak

Die Edinburgh se Kunstefees het jare gelede begin om hulle fees deur middel van podcasting die Wonderlike Wye Wêreld in te stuur.

Mense van oraloor kan dus oor hulle rekenaars en I-pods of selfone luister na klankgrepe van die fees. Vanjaar het Aardklop besluit om die sprong te waag en ook klankmateriaal beskikbaar te maak. Daar kan reeds sedert Julie geluister word na sekere programme deur die regte skakel op die webwerf, www.aardklop.co.za, te druk.

Tydens die fees sal daar elke dag drie onderhoude gevoer word voor ‘n gehoor. Dit vind plaas by die Cachet Kleinteater op die Bult. Dit sal dan na afloop van die onderhoud as ‘n klanksnit op die webwerf beskikbaar wees om na te luister op jou rekenaar of af te laai vir gebruik op jou I-pod of selfoon. ‘n Heerlike verskeidenheid kunstenaars staan reg om die wakker vrae van drie vernuftige onderhoudvoerders te beantwoord.

Die drie ervare aanbieders, Rian van Heerden van die geselsprogram Rian, wat mense soms ongemaklike laat kriewel oor sy vrae, behartig van die onderhoude. Dan sal Kabous Meiring in haar heerlike geselstrant ook sommige van die onderhoude voer en die OFM aanbieder Eloïse Pretorius is die derde lid van hierdie span wat met ‘n stel vrae gereed staan.

Van die gaste tydens hierdie podcasting opnames is beslis interessante openbare figure wat heerlike gesprekke gaan uitlok. Iemand soos Maphetle Maphetle, die burgemeester van Potchefstroom sal waarskynlik deur Rian gekarnuffel word oor al die naamsveranderings. Neil Sandilands sal verduidelik waarom hy glad nie die bleeksiel Bart is wat hy in 7de laan gespeel het nie. Bok van Blerk sal nie kan wegskram van lastige vrae nie. Ander gaste is onder meer die twee Johans van Noot vir Noot-faam, Tobie Cronjé, Jak de Priester, Kurt Darren, Theuns Jordaan, Ian Roberts, Chris Chameleon, Brian Webber en ons eie Grotman, Hannes Muller.

Terwyl Rian gereed sal staan met sy sarsie lastige vrae, sal Kabous fokus op wat alles agter die skerms van ‘n produksie aangaan en Eloïse sal op haar interessante manier al die dinge vra wat mense gewoonlik van hulle gunsteling sangers of akteurs wil weet. Die tydskrif Mense en OFM is die borge wat die podcasting vanjaar moontlik maak. OFM sal die volgende dag op die lug oor die opnames gesels en die gesprek dus heel interaktief hou.

Andries Vrey, Aardklop se Bemarking en Mediabestuurder is baie opgewonde oor hierdie manier waarop Aardklop ook hierdie jaar die tegnologie gaan inspan. “Sedert ons die podcasting geloods het in Julie met ‘n paar programme wat vertel van dinge wat op die fees gaan gebeur, het ons goeie terugvoer uit talle oorde gekry. Dit maak my veral opgewonde wanneer ‘n mens na die geografiese verspreiding van die luisteraars kyk wat na die uitsendings luister. Daar is talle oorsese luisteraars.

“Die doel met die podcasting is juis om die Kunstefees na diegene te bring wat nie self fisies in Potchefstroom kan wees aan die einde van September nie. Die studente en mense wat oorsee ge-emigreer het kan so deel word van die vermaak wat Aardklop bied.”

Die program vir die podcasting opnames wat in die Cachet-kleinteater plaasvind, sal elke dag in die feeskoerant verskyn. Toegang is gratis maar die teater kan net 80 mense huisves. Hierdie venue is juis gekies om die intimiteit van ‘n persoonlike gespek te behou. Die gesprekke vind plaas op 17:00, 19:00 en die hardebaardgesprekke 21:00 en 22:00. Hou die feeskoerant dop vir die skedule.

‘n Ander manier om op hoogte te bly van Aardklop se gebeure en die laaste veranderings wat soms gemaak word nadat die feesprogram gedruk is, is deur middel van die elektroniese nuusbrief. Andries sê daar is aanvanklik begin met 3000 intekenare maar dit het nou gegroei tot 10 000. Deur die loop van die jaar verskyn die nuusbrief maandeliks en dan in die paar weke voor die fees is daar elke week ‘n elektroniese nuusbrief in jou E-posbus. Om op die nuusbrief in te teken moet jy ook gaan na die webwerf www.aardklop.co.za en kliek op die regte sleutel. Daar is gereeld wedstryde wat jy kan wen wanneer jy nog van jou vriende suksesvol op die Aardklop nuusbrief laat inteken.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar