ABSA beloon uitnemendheid by Aardklop 2007

Nie alleen het ABSA vanjaar, as ‘n tiende-verjaardaggeskenk, ‘n borgskap bewillig om vier splinternuwe produksies op die planke te bring nie, maar daar is ook pas aangekondig dat hierdie viering uitgebrei word na ‘n verdere borgskap om uitnemendheid te vier.

Soos in 2006 bied ABSA twee kontantpryse ter waarde van R 10 000.00 elk vir onderskeidelik die beste akteur en aktrise. Verlede jaar het Marius Weyers en Hanlie Rolfes-Opperman met die toekenning weggestap vir hul spel in Chris Barnard se drama, Twaalfuurwals. Vanjaar se beoordelaars is gesoute resensente en teater-kritici, Diane de Beer en Kobus Burger.

‘n Nuwe prys, waarvoor ABSA ook R 10 000.00 bewillig, is die Beste Produksie-toekenning. Dieselfde twee keurders sal alle produksies in die toneel-kategorie beoordeel, waarna ‘n kortlys op Saterdag 29 September bekend gemaak sal word (die kortlys sal ook op Saterdag in die feeskoerant verskyn).

Die wenner in hierdie kategorie, asook die wenners van die Beste Akteur en Beste Aktrise-toekennings, sal later Saterdagoggend tydens ‘n glansgeleentheid in die Aardklop gasvryheidslokaal aangekondig word.

Volgens Marguerite Robinson, Aardklop programbestuurder, is hierdie gebaar van ABSA ongelooflik belangrik om kunstenaars te erken en vereer vir hul uitnemendheid – veral op feeste. Dit is weereens ‘n bewys van ABSA se verbintenis nie alleen tot Aardklop nie, maar die ontwikkeling van toneel in Suid Afrika, sê sy.

Met die aankondiging van die kortlys in Saterdag 29 September se feeskoerant word feesgangers die geleentheid gebied om kaartjies te bekom vir hierdie top-produksies.

bydrae: Alita Vorster

Lewer kommentaar

Leave a Reply