Versindaba 2007

Vanjaar se Versindaba sal op 06, 07 & 08 September in die HB Thomteater op Stellenbosch plaasvind, in samewerking met Die Woordfees.

Van ons mees prominente Afrikaanse digters van wie daar onlangs digbundels verskyn het, vorm deel van die program. Hieronder tel bekendes soos George Weideman, Jeanne Goosen, Dolf van Niekerk, Hans du Plessis, Joan Hambidge, Marlise Joubert, Cas Vos en HJ Pieterse. Ontluikende digters wat ook deel van die program uitmaak, is die opwindende hip-hop digter Jitsvinger, asook die rapmeester Willem Fransman (jnr.), Andries (Roof) Bezuidenhout, Gilbert Gibson en Charlton Lee George. Breyten Breytenbach en TT Cloete, van wie daar onlangs bundels verskyn het, maar wat ongelukkig nie by die Versindaba teenwoordig kan wees nie, se verse sal onderskeidelik deur Ampie Coetzee en Helena Conradie voorgedra word. Johann Nel, bekende woordkunstenaar, sal ‘n program rondom die poësie van MM Walters en wyle RK (Ronnie) Belcher aanbied.

Soos in die verlede word die voordragte afgewissel met onderhoude, besprekings en musiek. Die musikale komponent word vanjaar tot ‘n besonderse hoogtepunt gevoer, met optredes deur Jak de Priester, Anton Goosen, Philip de Vos, Niël Rademan en Riku Lätti. Poësieliefhebbers kan ook uitsien na die unieke voordragstyl van David Ferguson (van “Three White Men”-faam) en die kabaretagtige Sleursange, (teks deur Marlise Joubert en regie deur Mareli Hattingh van die US Dramadepartement.) Nog ‘n besonderse bydrae tot die program is die Dana Mouton-lesing wat vanjaar deur prof. Lina Spies gelewer word. Sy sal praat oor die tema “Wat is poësie?”

Lewer kommentaar

Leave a Reply