Afrikaanse voorgeskrewe werke lok vol sale

As deel van hul program om teater onder die jeug te ontwikkel en te bevorder, bied Kunstekaap vanjaar weer vier voorgeskrewe werke op die verhoog aan.


Twee van hierdie werke is in Afrikaans en die kaartjieverkope is bo-verwagting goed met net enkele plekke wat nog beskikbaar is.

Vaselinetjie, gebaseer op die boek deur Anoeschka von Meck, en wat vir Graad 11-leerders voorgeskryf is, word van 22-25 April opgevoer. Shirley Ellis behartig die regie en bekende name soos Andrea Stresso, June van Merch, Cedwyn Joel en Dawid Louw vul die hoofrolle. Leerders wat verlede jaar in die Hoërskool Dramakompetisie uitgeblink het, is te sien in die ander rolle.

Dit vertel die verhaal van ‘n meisie wat deur haar ‘Oupa’ en ‘Ouma’ groot gemaak word, net om te vind sy is ‘anders’ as hulle en na ’n kinderhuis gestuur te word. Hier leer sy allerlei ken en die vraag oor wat ‘normaal’ beteken in die Suid-Afrikaanse gemeenskap, kom onder die loep.

Vaselinetjie word aangebied in samewerking met Dagbreek Trust, US Woordfees, Nasionale Kunsteraad (National Arts Council), Hoërskool Bellville en die ATKV.

Adam Small se Krismis van Map Jacobs is die ander Afrikaanse drama wat in Mei aangebied word as ko-produksie met Cape Heart Theatre.

Krismis van Map Jacobs
Krismis van Map Jacobs
Map Jacobs is ’n gevreesde bendeleier en word ná sewe jaar in die tronk op parool vrygelaat. Almal wonder nou of hy verander het en of hy steeds die óú Map is. Die drama speel af ná die gedwonge verskuiwings uit die Kaap na die Vlakte. Dit kyk na die invloed wat sosiale en maatskaplike euwels op die gemeenskap het en gee ’n blik op die leefwyse van die ontworteldes, hulle lief en leed en die desperate hunkering na ’n beter bestaan.

Krismis van Map Jacobs, deur die bekroonde Adam Small, raak aan sosiale kwessies soos werkloosheid en armoede wat vandag steeds relevant is asook die soeke na identiteit en vergifnis. Dit fokus ook op die letsels wat Apartheid op die Kaapse bruin gemeenskap gelaat het.

John Kani se Nothing but the Truth is te sien van 6-13 Mei. Die regie word behartig deur Fatima Dike en dit is ’n ko-produskie met Siyasanga Cape Town Theatre Company.

Amaza is die voorgeskrewe werk in isiXhosa wat van 19-28 Mei opgevoer word. Dit is gebaseer op die boek deur ZS Qangule en verwerk deur Thokozile Ntshinga.

Vir navrae oor enige van die skole- of jeugproduksies wat vir 2015 beplan word, kontak Kunstekaap se Skole-ontwikkelingseenheid by 021 410 9927 of sluadmin@artscape.co.za

Lewer kommentaar

Leave a Reply