Blou labarint is ‘n nuwe woordkuns-produksie uit die pen van die Kaapse skrywer en regisseur, Snowy Krüger, wat premiere in April by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en ‘n unieke blik bied op die mens se universele soeke na sin in die lewe.
Volgens Kruger, is Blou labarint ‘n sterk spirituele produksie. “Die teks is in wese ‘n reisverhaal, die klankbaan vir ‘n verbeelde reis – van hier tot anderkant die blou berge (en weer terug), maar ook ‘n pelgrimstog na dit wat (ons) was en dit wat (ons) weer sal wees. Dis ‘n reis na binne, na die droomwêreld van onbeperkte potensiaal – na die ek in die stilte, na die goddellike in elkeen …”
Vir hierdie aanbieding keer Krüger egter terug na sy eerste liefde – woordkuns, veral storievertelling gekombineer met musiek. In die aanbieding word nuutgeskrewe musiek ineen gevleg met nuwe woordkuns, brokstukke van ou mites en legendes, storievertelling en elemente van joernaalskrywing, blogging en transkripsies van drome.
Die span het reeds groot sukses behaal met produksies soos Karoonag by KKNK asook Vry Vrou (die hoog-aangeskrewe Antjie Krog-woordkunsproduksie wat by KKNK, Aardklop en Kunstekaap aangebied was) en verskeie ander produksies vanaf kabaret tot ‘n Passiespel verlede jaar, asook ander produksies vir radio en TV.
“Die aanbieding gebruik die beeld van die sirkel, spiraal en veral die labirint – ‘n universele, antieke, mistieke simbool – as padkaart vir ‘n reis. Die introspektiewe spiraalpad van die labirint word gebruik as metafoor vir die reis na binne en die aanbieding ondersoek die labirint-reis as simbool vir die proses waardeur elkeen van ons gaan in die skoeke na sin in die lewe, ” sê Krüger.
Hoewel die stuk ‘n sterk spirituele inslag het, is dit ontdaan van dogma! Dit bied elkeen in die gehoor die kans om te reflekteer oor sy/haar eie lewensreis – en kan werklik ‘n oomblik van stilte bied in die frenetiese tempo van ‘n kunstefees!
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
