Broers belig die verwikkelde verhouding tussen Anton Tsjechof, een van die grootste dramaturge van alle tye, en sy disfunksionele familie – wrede vader, vertrapte moeder en die alkoholis-broer Alexander met sy onvergenoegde vrou, eens die minnares van Anton.
Die spanning tussen Anton en Alexander word op die spits gedryf die nag vóór hul broer Kolja se begrafnis, wat op ‘n spektakel afstuur.
Waar was Anton, ‘n mediese dokter, die nag toe sy broer hom op sy sterfbed nodig gehad het? Hoe word die intieme kennis van saam grootword die rede vir verwydering tussen bloedverwante?
Die stuk steun op biografiese gegewens, maar is ook ‘n universele ontleding van familieverhoudinge, verwyte en verraad. Familietemas in die destydse Rusland lê ontstellend naby aan dié in Suid-Afrika vandag.
Geskryf deur Reza de Wet, bekroonde Afrikaanse dramaturg wat reeds twee keer die Hertzogprys vir drama ontvang het, en geregisseer en ontwerp deur Marthinus Basson. Met ‘n opwindende jong rolverdeling: Eben Genis, Coba-Maryn Wilsenach en Laudo Liebenberg.