In die denke van die self-aangestelde Afrikaanse moraliteitspolisie is daar ´n sirkelgang: dit begin by politiek (‘o, die goeie ou dae!’), dan na die kerk (‘ek wou sê die kerktoring lyk bekend’), dan na die seksskandaal (‘o, die skande – wat presies het hulle gedoen?’) en dan na homoseksualiteit (‘o, die perversiteit, die sônde, dis mos nie ons mense nie!’). Tweede versie presies soos die eerste, derde versie presies soos die tweede – ad infinitum, ad nauseum.
Die Hangkas Haas bied aan die moraliserende massa ´n kykie in die lewe van die gay gemeenskap. In ons soektog na die Hangkas Haas ontmoet ons lipstick lesbians (waar’s die ding se on-button?) , die tiener wat die trein ry tussen Stiklandstasie en Kaapstad (sy soek ´n girl) , die drag artist (fopdosser femme fatale), die club queen (dansdonsie), Prinses Joan (eintlik Johan, die dominee se seun) en ´n verskeidenheid ander karakters wat een ding in gemeen het: hulle is so reguit soos ´n padkaart, skeef geklap, so kamp soos pienk charcoal, uiteindelik is almal maar net susters van die gemeente.
Die teks en liriek is die werk van Hennie van Greunen, bekroonde storieverteller wat verantwoordelik was vir uiteenlopende feestreffers soos Blougat, Lyf, Junkiedrome, Wydekloof, Café Boerlesque, Die Laaste Aand, Pello, Jong Dames Dinamiet en Anna se Engel.
Die choregrafie, musiek en musiekregie is waargeneem deur Pedro Kruger, wie se talente as sanger, akteur, pianis, liedjieskrywer en storieverteller al keer op keer bewys is met vertonings soos Blougat, Lyf, Junkiedrome, Café Boerlesque, Pello en Anna se Engel. As spankaptein van kykNet/M-Net se gewilde Liriekeraai word hy ook weekliks op televisie gesien.
Die regisseur is Marion Holm, ster van onder andere die Casper Rasper Show, Dis my lewe, moenie lag nie, Ja, lag maar, Anna se Engel en die 2004 treffer Sussie is nou suur, wat feesgangers laat kruip het van die lag.
Die rolverdeling is jonk en funky. Die ongelooflike Dorette Potgieter (ster van kykNet se drama Plek van die Vleisvreters) is ´n model, aktrise en aanbieder van formaat. Sy is onder andere gesien in Soutmansland, Voete van Goud en Egoli en nou ontbloot sy nog een van haar talente: as sangeres. Thomas Channell is ´n besonderse musikant wat aandag trek net waar hy optree. Sy teaterkrediete sluit in Baas en Klaas en die Baxter produksie Last twist at the Blue Moon Hotel. Die rolverdeling word voltooi deur Cornel van Zyl, Melanie le Roux en Robert Koen, drie jong, energieke akteurs wie se sang- en speeltalent die verhoog aan die brand slaan. Robert is by die KKNK vereer met ´n nominasie as beste nuweling op die fees vir sy werk in Die Hangkas Haas.
So, susters en broers, kinks & queens, broeiers en bloeiers, as julle nora is, gaan tannie julle bella! Dié show is beulah!
