Die artistieke direkteur van Brittanje se beroemde Carl Rosa Operageselskap, Peter Mulloy, het die rolverdeling vir die groep se lang-verwagte terugkeer na Suid-Afrika, met die mees geliefde van alle operettes, Franz Lehár se vreugdevolle Die Vrolike Weduwee (gesing op Engels), aangekondig. Die operette speel in 1912 af in die sjampanje-dae van Parys. Rykdom en elegansie word verstrengel met sensualiteit en plesier in die dekadente danspaleise van Maxims en die Moulin Rouge, waar die rykes en die glansryke weduwee Hanna Glawari aankom om haar gevaarlike flirtasiespeletjies te speel, maar is dit vir liefde of geld? Met die onverwagte aankoms van haar eerste liefde, Danilo, ontvlam vergane passie wat ‘n folterende toets van liefde en verraad ontketen.
In dié nuwe produksie wat spesiaal deur Peter Mulloy vir Suid-Afrika geskep is, het Carl Rosa alles uitgehaal om van die gewildste en bekendste opera en teaterpersoonlikhede van die Verenigde Koninkryk na die land te bring.
Die Kaapstad speelvak is van 25 Januarie tot 4 Februarie 2006 by die Kunstekaap Skouburg.
Die titelrol van Hanna Glawari, word deur Jan Hartley gesing. Sy is een van die Weseinde se mees gesogste sterre met briljante vertolkings as Christine in The Phantom Of The Opera, Maria in West Side Story, Magnolia in Showboat, Wallis Simpson in Always en Charlotte Bronte in Bronte. Jan se sangloopbaan sluit in vertolkings as Donna Anna in Don Giovanni by London se Barbican en Cherubino in The Marriage of Figaro by die Weense Fees. Met Carl Rosa se toer van dié produksie het sy van alle media lofsange vir haar vertolking van Hanna ontvang.
“‘n Lewe wat totaal aan plesier toegewy is, kos harde werk,” sê die karakter van Graaf Danilo Danilovitch tydens ‘n aand se vermaak. En Suid-Afrikaanse gehore behoort hulle eie plesier te kry in die wete dat die aantreklike akteur/sanger Karl Daymond as Danilo sal verskyn. Karl se luisterryke loopbaan sluit in die vertolking van die rol van Danilo met die RTE in Dublin, by die Cork-fees en onlangs vir die Minnesota Opera. Hy is ook bekend vir sy sang in die rol van Judd in Oklahoma vir die BBC Proms. Hy debuteer saam met die Berlynse Filharmoniese Orkes in Leonard Bernstein’s Wonderful Town, wat deur Sir Simon Rattle gedirigeer is.
Die rol van Valencienne sal gespeel word deur Maeve Morris, wie deur gehore geprys is vir haar vertolking van Yum-Yum in die Carl Rosa-aanbieding van The Mikado. Die komiese rol van Baron Zeta is in die hande van Brittanje se Barry Clark. Sy loobaan word gekenmerk deur optredes in opera, operette en oratorio met onder meer die rol van Pinkerton in Madame Butterfly en die Learned Judge in Gilbert and Sullivan se Trial By Jury vir die Covent Garden-fees. Barry was ook ‘n hoofsanger van die oorspronklike D’Oyly Carte Operageselskap.
Amos Christie sal as Camille de Rosillon gesien word. Amos maak sy professionele debuut in 2003 by Covent Garden se koninklike operahuis en het onlangs saam met die Engelse Nasionale Opera in Cosi Fan Tutte opgetree. Lesley Cox, speel Olga. Sy het onlangs teruggekeer van die Carl Rosa-toere in Australië en Nieu-Seeland met HMS Pinafore en saam met Simon Callow Music of Life as mede-regisseur van Reckless Productions by London se Palace Teater aangebied.
Die rol van Prascowia sal gespeel word deur Marilyn Cutts, wie in verskeie Weseinde musiekproduksies opgetree het insluitende Oliver!, Godspell en La Cava. Marilyn het ook in die Royal Shakespearegeselskap se Alice In Wonderland en die Koninklike Nasionale Teater se Oklahoma! gespeel. In Crewe, England, ontmoet sy Dillie Keane en stig later Fascinating Aida saam met Lizzie Richardson. Sy het onlangs by die beroemde groep aangesluit vir die toer van One Last Flutter, wat die 20-jarige bestaan van die geselskap gevier het.
Chris Johnston kom na Suid-Afrika om die rol van Njegus te speel. Hy is ‘n briljante komedie-akteur en het Ray Cooney vir die Britse komedieteater se intreeproduksie van Run For Your Wife gehelp. Met dié opvoering se tien jaar-lange speelvak in die Weseinde, het Chris vertonings regoor die wêreld aangebied en ook in die Weseinde opgetree. Hy is pas klaar met die Weseinde lokettreffer, Don Carlos, met Sir Derek Jacobi.
Die ander spelers vir die Suid-Afrika-toer van die Die Vrolike Weduwee is Mark Siney (Kromov), Jacqueline Tate (Sylviane), en Christopher Mulloy (Pritschitsch).
Die orkes, bestaande uit Suid-Afrikaanse musici, sal deur Wyn Davies, musiekregisseur van Carl Rosa en Nieu-Seeland Opera gedirigeer word. Nadat hy sy musiekgraad in Christchurch, Oxford behaal het, het Wyn Davies ‘n repititeur van plaaslike dirigent by die Walliese Nasionale Opera geword. Sy vryskut werk sluit in optredes met die meeste van die VK se operageselskappe en het ook sy eie weergawe van John Gay se The Beggar’s Opera vir Opera Noord-Ierland gedoen. Hy was vir twee jaar assistant-dirigent van die Metropolitan Opera, New York. Hy het onlangs The Barber of Seville by Opera North, Rossini se The Turk in Italy by die Buxton-Fees, La Belle Helene vir New Savoy Opera en The Mikado en Die Fledermaus vir die Carl Rosageselsskap gedirigeer.
Peter Mulloy het die waardige Carl Rosageselskap 1997 laat herleef. Hy het die internasionale toekenning vir beste operette-regisseur vir Pirates of Penzance in San Francisco en Philadelphia ontvang en die toekenning as beste regisseur by die Waterford-fees vir Iolanthe. Vir die Buxton Gilbert en Sullivan-Fees, het Peter toesig gehou oor die restorasie van die oorspronklike 1885 Savoy Mikado-produksie se kostuums wat in 1953 laas in die rolprent The Gilbert and Sullivan Story gebruik is. Dit het daartoe gelei dat Peter genooi is om die oorspronklike kostuum- en dekorontwerp vir Mike Leigh se rolprent, Topsy-Turvy, na te vors. Die Oscar-bekroonde stelle en kostuuums kan nou in die Carl Rosa-produksie van The Mikado gesien word. As Carl Rosa se artistieke direkteur het Peter ook Iolanthe, Die Fledermaus, The Pirates of Penzance, The Mikado (met Eric Roberts) en HMS PinaforeI laat herleef en die regie daarvan behartig.
Peter Mulloy se mede-regisseur en choreograaf vir Die Vrolike Weduwee is Steve Elias, wie se Weseinde loopbaan insluit The Pajama Game, The Goodbye Girl, Scrooge en die jongste optrede as mnr Braithwaite in Stephen Daldry se verhoogaanbieding van Billy Elliot.
Dié aanbieding se dekor en kostuums is deur een van die bedryf se talentvolste meesters, Hugh Durrant, ontwerp. Hugh se legendariese ontwerploopbaan sluit in hoofontwerper by Cojana, Londen en sy eie klere-reeks in 1988 en bekroonde kostuumontwerpe, insluitende ‘n Emmy toekenning vir beste kostuums in September 2003 vir die Cher Farewell Tour. Hugh se dekorontwerp sluit in Lock Up Your Daughters in die Weseinde en Fantasy by die Luxor in Las Vegas. Hy het 13 pantomimes vir die Britste vervaardiger Paul Elliott ontwerp waarvan twee – Jack and the Beanstalk en Cinderella – onlangs by die Nelson Mandela-Teater van die Johannesburgse Stadskouburg te sien was.
Die Vrolike Weduwee se musiek is deur Franz Lehár gekomponeer, met die oorspronklike boek en lirieke deur Victor Leon en Leo Stein. Die nuwe Engelse vertaling vir Carl Rosa is deur Jeremy Sams en die operette word met die toestemming van Glocken Verlag Beperk, Londen opgevoer.
Die Suid-Afrika optredes is by Kunstekaap in Kaapstad vanaf 25 Januarie en by die Nelson Mandela-Teater in Johannesburg vanaf 8 Februarie.
Kaartjies vir die Kaapstad speelvlak wissel van R100 tot R220 en is te kry van Kunstekaap Bel-‘n-Sitplek by Tel: (021) 421-7695 of Computicket by Tel: 083 915 8000 of bespreek elektronies by www.computicket.com. Daar is ‘n spesiale afslag vir groepe van 20 of meer beskikbaar.
