Die Weg Uit met Francois Le Roux

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

In ‘n opvoering van Die Goue Seun is iets nuuts probeer met die visuele aanbieding van ‘n toneelstuk wat handel oor die lewe en werk van skrywer / digter Uys Krige. ‘n Tjellis is betrek en gevra om ‘n klankbaan te komponeer en uit te voer vir die lengte van die stuk. Na ‘n lang soektog en met die hulp van Debbie Human van die Departement Ondernemingsbestuur by die Universiteit van Stellenbosch (US) het ek die kranige musikant opgespoor vir wie ek sedert my Goue Seun-ervaring in Bloemfontein, net die hoogste lof het. Leon Edel, skrywer van onder meer ‘n biografie oor Henry James, het gesê dat ‘n biograaf ‘n liefdesverhouding met sy subjek aangaan.

Net so passievol soos Kannemeyer skryf oor Krige in sy biografie met dieselfde titel, net so intens en driftig word die snare gestryk en gepluk om poëtiese en melankoliese klanke voort te bring. Klanke wat pas by Uys en sy lewenslange passie met woorde. Die eiesoortige kombinasie het aan die produksie die Kanna prys vir beste bydrae tot ernstige toneel en woordkuns besorg, terwyl Neels van Jaarsveld (in die rol van Krige) die Slurpie prys vir beste nuweling gekry het.

“En ek kan my volk se groot warm hart deurboor met my stralende pyle. Ja-nee, ‘n woordspeling kan ek nie weerstaan nie al is hy hoe slap”, staan in blou geskryf op ‘n wit doek wat op die verhoog hang. In dié drama wat veral die verhouding tussen die skrywer / digter Uys Krige en sy ma, Sannie uitbeeld, word die gehoor se hart op meer as een vlak diep geraak.

Woorde en beskrywings borrel ook uit Le Roux wanneer hy vertel waarom hy juis die tjello verkies. “Van al die snaarinstrumente is dit die veelsydigste. Dit vertoon die beste en sy omvang is die naaste aan die menslike stem. Daar is ‘n hele paar tjelliste in die wêreld wat die instrument uit sy klassieke mondering gelig het, self het ek nie ‘n agenda gehad met die instrument nie. My keuse om dit te begin speel op sewe was maar bra arbitrêr. Vandag is ek bly daaroor want, afgesien van die effense lompheid om die instrument te vervoer, bied dit my baie moontlikhede as solo-kunstenaar. Anders as byvoorbeeld die viool, kan die tjello jazz doen, virtuoos, klassiek, folk, rock, perkussief, liries, melodies en ritmies maar ook vir klankeffek en begeleiding aangewend word. Dit vertoon mooi en kan in allerlei posisies bespeel word. Ek ondervind dikwels dat mense die tjello by my shows ontdek en vir die eerste maal opwindend vind.”

Francois le Roux
Francois le Roux
In 2004 onderneem Francois ‘n uitgebreide toer na Europa en die VSA. In die VSA is ‘n groep bewonderaars (die Hamanworld supporters) wat die administratiewe been van sy konserte haarfyn beplan en tot uitvoer bring.

Daar is nie keer aan Le Roux se energie en entoesiasme nie: veelvoudige solo optredes, klankbane (vir die fliek Die Prins van Pretoria, die dokumentêr People of the Gariep), produksies (Shoprite Woman of the Year-toekenning en ‘n massakooroptrede in die Royal Albert vir Ukkasie 2003) en dit is nog lank nie al nie. ‘n Profiel van sy unieke Ha!man-vertoning was op SABC3 en kykNET te sien en saam met Leonhard Praeg en Rick van Heerden skep hy ‘n eksklusiewe klankbaan vir Reza de Wet se produksie On the Lake. Maar hoe het hy en die span van die Goue Seun musiek en teater byeengebring?

“Die proses het met Grethe Fox begin. Sy wou my van meet af betrek, maar het toe eers saam met Saartjie Botha en Marthinus Basson die teks ontwikkel. Hulle het uiteindelik met duidelike versoeke gekom oor waar en hoe die musiek aangewend moes word. My aandeel was meerendeels in die skep, die konsep van die musiekverwerkings. Die benadering was spontaan en het baie goed ingeskakel by die toneelspel en algemene atmosfeer van die stuk, alles faktore wat bygedra het tot die sukses en uniekheid van die produksie. Die stuk het ‘n vloeiendheid gehad wat musikaal met tyd, karakters en onderwerp gespeel het.”

Die Goue Seun het bestaan uit Grethe Fox, vermaarde aktrise en kleinkind van die karakter Sannie Uys wat sy vertolk, Neels van Jaarsveld, André Roothman en Francois Le Roux (begeleiding). Saartjie Botha het die teks saamgestel en Marthinus Basson het die regie waargeneem. Dit is een van daardie (rare) teaterervarings waar alles, van die teks, goed gekose akteurs en die musiekverwerkings net eenvoudig werk. Le Roux vertel hy was met elke opvoering verbaas oor hoe sterk die gehoor reageer.

“Ek dink die sentrale elemente soos die karakter van Uys, Neels van Jaarsveld se opwindende vertolking van die karakter en die teenwoordigheid van Grethe wat ‘n noue persoonlike band met die hele geskiedenis het, was reeds genoeg materiaal vir ‘n sterk produksie. Dit is ook in hoofsaak waarop die media gekonsentreer het. Ek kon met elke opvoering die gaatjies wat deur die dialoog gelaat is, die spasies in die tempo, die kurwes van die algehele spanningslyn aanvul met musiek. Dit is natuurlik ‘n kuns om so fyn aan te voel en gebeur nie bloot deur musiek by woorde en aksie te voeg nie. Musiek het ‘n versoenende rol gespeel.”

‘n Oorsig oor Uys se lewe is weggelaat met die aanvanklike beplanning omdat feesgangers anderhalf uur sit sonder lugversorging, op harde stoele en met beperkte uitsig en hoewel die stuk slaag daarsonder, laat dit mens tog wonder of feeste uit ‘n logistieke oogpunt te voorskriftelik geraak het en die dramatiese aspekte van teater verlore gaan?

“Dis ‘n moeilike een. Grahamstad is die KKNK nog altyd een voor deurdat gehoorsitplekke in al die lokale skuins afloop. Skoolsale word heeltemal omskep om ‘n teatergevoel te skep. Dit grens aan die banale om teater te wil bedryf met ‘n hoë verhoog en ‘n plat gehoorsaal, stoele wat rondskuif en lig wat oral inkom. Maar dit was 2002. Miskien is dit al beter? Feeste behoort eerder te belê in lokaalinrigting eerder as om meer en meer voorskriftelik te raak met teater. Dit is trouens nie regverdig om van ‘n gehoor te verwag om gefokus te bly as hulle warm kry, nie kan sien of bloot nie uit die werklikheid weggeneem word nie as gevolg van ‘n lokaal. Goue Seun het bewys dat goeie teater kan lok én bevredig.”

Uys se veeltaligheid en vertalings uit die Romaanse Tale het Afrikaanse lesers aan die werk van Mediterreense skrywers soos Pablo Neruda en Frederico Garcia Lorca bekendgestel. Die Abu’l-Ala en Lorca se Yerma is deur hom vertaal. ‘n Veelsydige mens, met ‘n romantiese temperament maar ook melankolies en buierig. Dan is daar sy vinnige en afgebroke praatstyl, sy uitgebreide oevre, 46 professionele en persoonlike hoogtepunte in sy lewe (soos deur Fox geidentifiseer) en net een instrument om al hierdie fasette uit te beeld. ‘n Uitdagende versoek! Basson het ‘n emosionele invalshoek eerder as ‘n sterk narratief gekies. Ek wou by Francois weet hoe hy die musikale verwerkings benader het en wat sy invalshoek was.

“Persoonlik het ek baie aanklank gevind by die karakter van Uys toe ons daaraan begin werk het. Self reis ek konstant en hou ek van verskeidenheid en veelsydigheid. My benadering was intuïtief en natuurlik, my invalshoek ook emosioneel van aard. Natuurlik het Marthinus se fyn regisseursoog gehelp. Ek het wel niks ooit presies dieselfde gedoen nie, maar die basiese patrone is vroeg reeds vasgelê. Die akteurs self was inspirasie. Elkeen het ‘n emosionele energieveld geskep waarby ek onderskeidelik kon aansluit.”

En as begeleier was Francois sigbaar op die verhoog, ‘n rariteit in ‘n toneelstuk? “Ja maar dit het moontlik net gewerk omdat ek ook toneelgespeel en gesing het. In 1995 was ek as tjellis ook deel van ‘n toneelstuk, en het ek die prys vir ‘best supporting act’ gekry. Dit was eintlik ‘n grap.”

In 2004, tydens die InniBos-kunstefees, wen Le Roux die Slurpie-prys vir beste debuutproduksie vir Ha!man, Oom Schalk en die Groot Vyf. Hy het dié multimedia produksie saam met die 92-jarige wildernisreisiger, storieverteller en kunstenaar Schalk Theron aangepak waarin musiek gekombineer word met die klanke van wilde diere, oom Theron se stories en vertellings oor die natuur en die fotograaf Kate Louw se beeldmateriaal.

In September verlede jaar was Skepping 7 – ‘n kreatiewe uitbeelding van die Genesis 1-skeppingsverhaal in die Studentekerk in Stellenbosch te sien. ‘n Mengelmoes van dans, koorsang, toneel, videoprojeksies, kuns, teks en Francois se bindende musiek wat die sewe skeppingsdae uniek, maar ook holisties uitbeeld. Estelle Botha was die choreograaf en Iain Stephens kreatiewe direkteur. Solo kunstenaars voltooi die span. Maar hoekom die Skepping as tema?

“Jare gelede toe ek nog student was en lid van die Studentekerk in Stellenbosch, het die idee om ‘n Kersdiens-produksie te skep gebaseer op Johannes 1, by my opgekom. Dit is uiteindelik voor 3 000 studente uitgevoer, ‘n werk van sowat 50 minute met koor, stryk- en blaasensembles, ‘n spreekkoor, akteurs, dansers en klank- en ligeffekte. Ek en ds Carel Anthonissen het bevriend gebly en saam het ons besluit om weer soiets aan te pak met Genesis 1 as vertrekpunt. Die idee is entoesiasties deur die gemeente aanvaar. Dis ‘n kreatiewe hoofstuk oor die skepping en breek deur die polêre debat daar rondom deur skeppend daarmee om te gaan, eerder as wetenskaplik of gelowig. Dit kan die wetenskap se beperkinge uitlig en die vlug van die geloof meer begrond.”

“In hierdie produksie was daar musiek, beeldmateriaal en dans. Die naaste wat ons aan karakters gekom het, was Adam en Eva wat verskyn op die sesde dag en die ontstaan van die mens verteenwoordig. Ons het skalks na hulle as Adam en Eva verwys, hoewel hulle eintlik nie figureer in Genesis 1 nie. Genesis is baie toeganklik vir my as musikant. Dit gaan om die estetiese eerder as die dramatiese. Man en vrou, nie Adam en Eva nie. Dit word dan ook as ‘n soort gedig en nie as ‘n verhaal geskryf.”

Meer as ooit tevore sit ons met ‘n groot gros aantreklike, talentvolle en bekwame (jong) akteurs en musici. Die geleenthede is min, veral sterk karakterrolle vir vroue. Dit gons in die bedryf oor werkskepping maar selfskep is nie regtig so eenvoudig nie. Francois reken met selfskep raak jy ook meer kreatief.

“Dit is nie so eenvoudig nie, en tog is dit meer moontlik in Suid Afrika as baie ander plekke waar regulering en gevestigde tradisies selfgegenereerde aksies demp. Ek wil kunstenaars wat begin, aanmoedig om self werk te skep en daarmee saam hulle eie persoonlike aanslag en bestuurstyl te ontwikkel. Ek het my eerste jare oorleef deur op straat musiek te maak, en ‘n mens doen beter as wat jy dink. Toe het ek huiskonserte en -teater begin doen. Ook hierin lê ‘n onontginde bron. Dan praat ons nie eers van skole en ander instansies wat groot behoefte aan vermaak en oordrag van vaardighede het nie. Baie het al die korporatiewe wêreld ontdek. Dit hoef ook nie net die groot maatskappye te wees nie. Ook die plaaslike kleiner besighede kan by opvoerings, werkswinkels en kreatiewe projekte baat. Dan is daar die groot veld van ontwikkelingswerk waarvoor daar dikwels fondse gereed staan. Klim oor die heining, self skep bevry jou, help jou om wyer te kyk as net die amptelike kunsruimtes.”

Streekrade en simfonie orkeste het ontbind. Opera sangers en jong soliste is sonder heenkome. Ons hoor dikwels van die teatermakers, maar wat van die musikante soos jyself? Wat is die toekoms van ernstige musiek in S.A. – as daar nie sinvolle en ernstige befondsing kom nie?

“Die toekoms van ernstige musiek as sodanig lyk wêreldwyd nie goed nie. Dis ‘n bejaarde bedryf. In SA het dit ‘n ekstra knou weg, hoewel dit as ‘n geleentheid kan dien om vinniger vooruit te kyk as in ander lande waar dit nog in watte toegedraai word. Self is ek nie einltik meer ‘n ‘ernstige’ musikus nie, want ek speel net by uitsondering ernstige musiek. Ek het wel heelwat klassieke vriende en baie van hulle het nuwe weë gevind om te oorleef en hulleself in uit te leef. Jy moet diversifiseer (jazz, ligter musiek, korporatiewe werk en dan innovasie, soos Afrika-opera).”

“Ek het gedink ek moet Afrika verlaat omdat ek Europees grootgemaak is en toe ontdek het dat ek in Afrika moet bly omdat ek my Westerse sentimente of sensitiwiteite verloor het. Nou verlustig ek my in die sinergie wat ontstaan tussen my Westerse agtergrond en die vryheid en energie waarmee Afrika my inspuit. En dit werk nie nie net vir my nie, maar ook vir ander, wit en swart, en les bes ook vir die blekes van vel in die Noorde.”

“Ernstige musiek moet nie verdwyn nie. Ek onthou nog die geweeklaag toe Kruik en die KSO toegemaak het. Kort daarna was daar drie nuwe orkeste in die Kaap, maar ons moet ons fokus verskuif vanaf paniek oor die voortbestaan daarvan na die nuwe stylgeboortes wat die toekoms vra. Daar is hoeka te veel afstand en antagonisme tussen ernstige en meer toeganklike musiek.”

Ten slotte wou ek by Francois weet waarna hy luister en watter boeke hy tans lees. “Ek lees Frontiers van Noel Mostert, die seminale en boeiende geskiedenis van die Oos-Kaap. En ek luister na my vriend Paul Hanmer se jazz en, oeps! verloor nog meer van my Westerse sensitiwiteite.”

Bedankings:
Debbie Human (Dept Ondernemingsbestuur, US)
Barrie de Beer (Bestuurder, Eikestad Nuus)

bydrae: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar