Lefra Produksies, wat reeds Fiela se Kind – Die Drama deur Dalene Matthee met verhoogteks deur Suzanne van Wijk vir drie keer opgevoer het (1997, 2007, 2017) het besluit om as deel van die Lefra Kelderkonserte ‘n regstreekse aanlyn toeligtings- en besprekingssessie aan te bied op Woensdag, 1 Julie 2020 om 10:00.  Kaartjies word teen ‘n verminderde groepstarrief aan skole aangebied en besprekings kan gedoen word by www.itickets.co.za. Sluitingsdatum vir besprekings is Dinsdag, 30 Junie 2020.

‘n Paneel, bestaande uit Shaleen Surtie-Richards (wat die rol van Fiela verskeie kere op die verhoog vertolk het en ook in die eerste rolprent), Phillru van Achterbergh (wat die rol van die volwasse Benjamin/Lukas in die 2017 verhoogproduksie vertolk het en tans te sien is in Binnelanders), Vian Singleton (wat die rol van die jong Benjamin/Lukas in die 2017 verhoogproduksie vertolk het en tans te sien is in 7deLaan) en Junaid Anthony (samesteller van die studiegids), sal fokus op aspekte vanuit die drama wat Graad 12 Afrikaans Addisionele Taal leerders in staat sal stel om die drama beter te verstaan ter voorbereiding van die eksamens.  Frans Swart, besturende direkteur van Lefra wat ‘n hele paar keer saam met Fiela lang paaie gestap het, sal die gespreksleier wees.  Die Lefra Kelderkonserte word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Renegades Removals, Ambassador Execudrive, Q2V Productions en Savvy Holdings aangebied.

Lefra het sedert die inperking as gevolg van die Covid19-pandemie baie van julle produksies aanlyn geskuif en is Lefra se Kelderkonserte geloods.  “Ons leuse was nog altyd: ons bring teater na die mense toe”, sê Frans.  “Dis belangrik dat ons die huidige reëls en regulasies volg om die pandemie te stuit, maar intussen kan jy jou weeklikse stukkie teater en musiek aanlyn geniet.  So bring Lefra steeds topklas teater na die mense toe!  Die keer nie net na jou dorp toe nie, maar na jou sitkamer toe!”  Net soos die teaterindustrie, was miljoene leerders landswyd tuis vasgekeer en moes alternatiewe planne gemaak word vir die skoolwerk om voort te gaan.  “Ons is maar al te bewus van die ontwrigting wat die pandemie in ons alledaagse lewens veroorsaak het”, sê Frans.  “Maar hier is ons in staat om so bietjie te help.  Ons het heelwat ervaring met die produksie van Fiela se kind en met hierdie regstreekse besprekingsessie kan ons nie net duisende leerders help nie, maar skep ook werk vir ‘n paar kunstenaars”.

Die sessie gaan regstreeks aanlyn vanaf Lefra se “kelder” uitgesaai word.  Behalwe vir die gesprekke met die akteurs, gaan daar ook kort toneeltjies uit die drama ingespeel word, soos onder andere die badtoneel, die sensusmanne se toneel, Barta se erkenning en Benjamin/Lukas se roerende monoloog van wie hy nou werklik is.  “Ons gaan ook poog om die sessie so interaktief as moontlik aan te bied”, sê Frans.  “Onderwysers word aangemoedig om nou reeds vrae aan te stuur na info@lefra.com.  Tydens die lewendige uitsending sal hulle ook die kans kry om vrae in te stuur wat moontlik beantwoord sal word, maar ons kan nie waarborg dat almal se vrae beantwoord sal word nie.  Ons sal vrae vooraf wil groepeer om vir die leerders die beste toe te rus vir die eksamen.”

Alle besprekings kan by www.itickets.co.za gedoen word.

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply