Finaliste vir 2006 Sanlam-teaterprys

Die derde Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater sal vanjaar by die Aardklop-kunstefees tussen die universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat en Tshwane Universiteit vir Tegnologie uitgespook word. En dramatekste vir die 2007-prys word ingewag.

Die name van dié finaliste is op 6 April tydens die Kannastoekennings by die KKNK op Oudtshoorn deur Martie de Lange, borgskapbestuurder van Sanlam, bekend gemaak.

Wat vanjaar betekenisvol is en verwelkom kan word, het sy gesê, is dat drie van die vier dramatekste die pennevrug van senior studente is. Die Sanlam-prys is juis daarop gemik om die skryf van professionele dramatekste aan te moedig, opkomende teaterkunstenaars die geleentheid te bied om hul talente te ontwikkel en daardeur die algemene standaard van Afrikaanse teater te stimuleer.

Tshwane Universiteit vir Tegnologie se dramadepartement betree die verhoog met twee dramas deur twee verskillende rolbesettings: Waterman, deur Wim Vorster, en Dis ek, Anna, deur Anelle Bester.

Die Universiteit Stellenbosch wat in 2004 die eerste wenner van die Sanlam-prys was, hoop om met Slaghuis, deur Willem Anker, hul prestasie te herhaal. Die Universiteit van die Vrystaat, verlede jaar se wenner, het Breinbliksem, deur Thys Heydenrych, ingeskryf.

Die vier wentekste word nou ingestudeer en met ‘n borgskap van R25 000 elk by Aardklop op Potchefstroom opgevoer. By dié fees, van 26 tot 30 September, sal die algehele wenner en ook die beste akteur, regisseur en dramaturg aangewys word.

Vir die wendramadepartement wag ‘n stewige R100 000 op voorwaarde dat die wenproduksie ook by twee ander kunstefeeste opgevoer word. Die individuele pryse is elkeen R20 000 werd. Die totale prysgeld van altesame R260 000 per jaar maak die Sanlam-prys die grootste in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater vir die ontwikkeling van Afrikaanse teaterproduksies.

De Lange het terselfdertyd aangekondig dat die Sanlam-prys vir 2007 sy hoogtepunt by die Absa KKNK (31 Maart tot 7 April 2007 op Oudtshoorn) sal bereik. Die program sal dus met tot vier splinternuwe Afrikaanse opvoerings deur studente opgekikker word.

Om vir die 2007-prys in aanmerking te kom word ons land se dramaturge genooi om teen 22 September vanjaar oorspronklike Afrikaanse teatertekste (ongeag dialek of streektaal) vir oorweging aan enige van die dramadepartemente by universiteite ens. in Suid-Afrika voor te lê. Volledige besonderhede is op die Internet by www.sanlam.co.za beskikbaar onder Kompetisies op die tuisblad.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar