Hex, ‘n aangrypende teatercollage van verhale in Afrikaans, Engels en Xhosa oor die vele fasette van vrouwees, onder spelleiding van Heike Gehring, word vanjaar van 31 Maart tot 5 April by die KKNK aangebied as deel van die hooffees.
Dié teaterstuk, gegrond op Riana Scheepers se bundel kortverhale Feeks, is ´n uitbeelding van die ervarings van vroue wat hulself al deur die eeue heen aan die rand van die samelewing bevind omdat hul gedrag nie aan die norm voldoen nie, die sogenaamde "hekse" of "feekse". Hex is egter allesbehalwe ´n jammerlike gesanik of politiek-korrekte teregwysing. Dit is eerder ‘n priemende, uitdagende viering van vroue wat elk op eiesoortige manier ‘n verskeidenheid lewensvraagstukke deurtrap en verantwoordelikheid vir hul eie lewensgeluk of -ongeluk aanvaar.
Gehring, ´n kreatiewe jong kunstenaar wat in 2001 haar meestersgraad in regie aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het, skep ‘n boeiende en intieme ruimte waarbinne die onpeilbaarheid van die vroulike psige verken word. Dié ruimte is simboliek-ryk aangevul deur Willem Jansen se innoverende beligting- en stelontwerp.
´n Drietal opwindende jong aktrises span saam om aan dié uitsonderlike vroue op die verhoog lewe te gee en die uiteenlopende verhale tot ‘n soomlose geheel saam te bind.
Chan Marti – tans ook te sien in Geraldine Aron se nuwe drama Rustlers – is nie ‘n onbekende by die KKNK nie. In 2000 was sy in Oudtshoorn met die produksie Salomé en in 2001 met Die Toneelstuk, die omstrede drama van Breyten Breytenbach wat opgevoer is onder spelleiding van Marthinus Basson.
Brenda Ngxoli spog op jeugdige ouderdom reeds met heelwat TV- en rolprentervaring, onder meer as kontinuïteitsaanbieder vir M-Net en ‘n rol in die film Final Solution, terwyl sy ook al by die Grahamstadfees ‘n draai gemaak het met haar eenvrou-vertoning Yes Merem.
Coba-Maryn Wilsenach het pas haar drama-graad voltooi aan die Universiteit van Kaapstad waar sy onder meer ´n Fleur de Cap-benoeming ontvang het as die beste studentespeler, onder meer vir haar spel as die hoofkarakter in die Shakespeare-drama King Lear.
