Hoërskole wat wil deelneem aan Artscape en die Suidoosterfees se Hoërskool Dramafees, kan nou
aansoek doen. Dié gewilde fees bied jaarliks aan leerders van skooldramagroepe die geleentheid om
hul talent op Kunstekaap se verhoog ten toon te stel, en die wendrama word tydens 2023 by die
Suidoosterfees se NATi Jeugteaterprogram ingesluit. Pryse is ook op die spel vir die beste akteur,
regisseur en skrywer, en wenner-akteurs gaan ’n gasverskyning in die kykNET-sepie Suidooster maak.
Om deel te neem moet hoërskole teen 20 Mei 2022 ’n video-uittreksel van 10 minute van hul
skooldrama stuur na slu@artscape.co.za. Finaliste sal genooi word om van 15 tot 20 Augustus 2022,
tydens die Hoërskool Dramafees, hul produksies wat tussen 30 en 60 minute lank moet wees, in
Kunstekaap op te voer. Wenners sal daarná aangekondig word.
Deelnemers word uitgenooi om stukke in te skryf wat handel oor sosiale uitdagings waarmee
leerders in vandag se lewe gekonfronteer word. Marlene le Roux, hoof- uitvoerende beampte van
Artscape, sê dat die teater nog altyd die ideale plek was waar kommentaar oor belangrike kwessies
gelewer kan word.
In 2021 is Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas as kompetisiewenners van die Hoërskool
Dramafees aangewys met hul produksie van Neer daal die reën. Dié toneelstuk is onlangs tydens die
Suidoosterfees opgevoer. Skole wat in 2021 om dié gesogte geleentheid meegeding het, het
inskrywings in Afrikaans, Engels en Xhosa gelewer. Hoërskole soos Jan van Riebeeck en die De la Bat-
skool vir gehoorgestremdes in Worcester het deelgeneem.
Artscape en die Suidoosterfees plaas ’n sterk fokus op die ontwikkeling van jong talent in die
kunstesektor. Volgens prof. Brian Figaji, direksievoorsitter van die fees, bied die kompetisie vir jong
kunstenaars die geleentheid om eerstehandse ervaring op te doen van hoe ’n professionele teater
binne die konteks van ’n kunstefees werk.

Hoërskool Dramafees 2022
Hoërskool Dramafees 2022

Lewer kommentaar

Leave a Reply