Die Suidoosterfees en Atlantic Studio’s laat die klassieke inryteater herleef. Van 4 tot 15 November 2020 word feesproduksies in ’n splinternuwe baadjie geklee, en kan groter gehore vanuit die gemak en veiligheid van hul motors na feesaanbiedings op die silwerskerm kyk.

Produksies wat op die silwerdoek geprojekteer word, word direk opgeneem terwyl die kunstenaars op ’n buitelugverhoog optree. Inryteatergangers skakel in op ’n FM-radiofrekwensie om in hulle motors na die klankbaan van produksies te luister. Die geleentheid voldoen volledig aan vereistes ingevolge die COVID-19- nasionale gesondheids- en veiligheidsregulasies.

Volgens professor Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfees-direksie, is gehore uitgehonger vir teater- en musiekproduksies. Die fees se inryteater bied ’n veilige uitlaatklep, danksy die ondersteuning van borge en die samewerking met Atlantic Studios. Jaco Loubser sê dat dié inisiatief ‘n alternatiewe opsie vir optredes en inkomste aan kunstenaars voorsien. Inryteatergangers kan ook uitsien na heerlike ‘roadhouse’-etes wat vanuit die Kokkedoorstoor voorberei word.

Produksies om na uit te sien: Klopse Jol, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks, Lottering in Lockdown, Francois van Coke en Early B, Koortjies met Jonathan Rubain en Lag my kla. Die vier topverkopers vir Suidoosterfees 2020, wat vroeër vanjaar as gevolg van die pandemie uitgestel moes word, was Kaapkreools, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks en Marc Lottering. Gehore het nou die geleentheid om die produksies by die inryteater te geniet.

Die Adams-broers saam met ’n eg Kaapse Maleierkoor, Klopsegroep en ’n tienstuk-orkes wat die voete sal laat jeuk in die produksie, Klopse Jol! Die legendariese PJ Powers snoer talente met die Tygerberg-kinderkoor saam om ’n onvergeetlike musiek-extravaganza na die inryverhoog te bring. Feesgangers kan uitsien na treffers soos ‘Welcome to Africa’, ‘The right to learn’, ‘Jabulani’, ‘The world in union’ en ’n massauitvoering van ‘Shosholoza’.

Gehore kan ook uitsien na ’n gesamentlike optrede van Francois van Coke en Early B – Suid-Afrika se grootste rocker en rymkletser op een verhoog!

Gary Naidoo tree op in Die Variety Show that skriks vir niks, ’n vertoning wat die verhoog in ligte laaie laat opgaan met skreeusnaakse komedie en ’n jol soos net die Kaap kan gooi. In Marc Lottering se produksie vertel die supergewilde grapjas van sy avonture gedurende die grendelstaat. Kom skaterlag saam vir sy weergawe van aanlynvergadering en tuisonderrig.

Lag my kla is die uitvloeisel van ’n aanlyn kompetisie wat van stapel gestuur is om nuwe komedie-talent te identifiseer vir verdere ontwikkeling. Met dié projek van Son, kykNET en die Suidoosterfees het Shimmy Isaacs, Rezah Forbes en Solomon Cupido nuwelinge se talent geslyp. Die wenners van 2020 se Lag my kla-kompetisie tree saam met hulle op.

Die eerste Afrikaanse gospel-televisiereeks, Koortjies met Jonathan Rubain, is een van die gewildste reekse ooit op kykNET en Kie. Gaste wat in die reeks te sien was, kom byeen vir ’n aanskoulike verskeidenheidsvertoning by die inryteater.

Kaartjies kos vanaf R250 per motor, en kan by Computicket bespreek word. Verblyfpakkette by City Lodge is beskikbaar teen R1600 vir twee persone, en sluit bed en ontbyt, ’n inryteaterkaartjie en inry-ete in. Hierdie inisiatief van die Suidoosterfees is moontlik gemaak deur die Departement van Kuns, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, kykNET, NATi, Die Burger, Media24, Smile FM en Atlantic Studios.

Suidoosterfees Inryteater Program

Lewer kommentaar

Leave a Reply