Die Suidoosterfees, een van Kaapstad se prominentste kunstefeeste, sou op 3 Mei 2020 vir die sewentiende keer ten einde geloop het. Die fees moes egter vanweë die Covid-19-pandemie en die nasionale inperkingsmaatreëls tot verdere kennisgewing uitgestel word.
In een van die vlagskip-produksies wat vir die 2020-feesprogram geskeduleer was, sou PJ Powers en haar orkes saam met die Tygerberg-kinderkoor opgetree het. Verskeie gemeenskapskore sou ook deelneem aan dié eenmalige massakoor-extravaganza wat in Artscape se Operahuis sou plaasvind.
Met die fees wat aangeskuif moes word, het die organiseerders ’n samewerking met Vicky Davis en Schalk Joubert van die Cape Town Music Academy (CTMA) geloods. Die resultaat: ’n Musiekvideo van PJ Powers se rugby-wêreldbekertreffer, “World in Union”. Die video bring hulde aan Covid-19- essensiële werkers en die globale spanpoging om die pandemie hok te slaan. Die musiekvideo huldig ook landsburgers se pogings tot self-isolasie en die gedissiplineerde wyse waarop hulle die inperkingsreëls in dié uitdagende tyd gehoorsaam. Hierdie spesiale projek is die jongste van ’n reeks aanlyn inisiatiewe wat deur die Suidoosterfees in samewerking met feeskunstenaars onderneem is.

Klank- en beeldmateriaal vir die video is tydens die inperkingsperiode opgeneem terwyl kunstenaars in isolasie tuisgebly het. Naas PJ Powers, haar orkes en die 35 kinderkoorlede, was die volgende musikante betrokke: Tigger Reunert, Schalk Joubert, Kevin Gibson, Lolo Rollins en Donveno Prins. Die materiaal, wat in tuisateljees en op slimfone opgeneem is, is agterna deur professionele tegnici vermeng en geredigeer. In die musiekvideo verskyn daar ook beeldmateriaal en fotos wat tydens die staat van inperking gepubliseer is, onder andere deur Die Burger, ’n borg en vennoot van die Suidoosterfees.
Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, sê dat die fees trots is op projekte wat saam met feeskunstenaars uitgevoer word. “Ons oogmerk is om sosiale samehorigheid te bevorder. Met Afrikadag se fokus op vooruitgang op die kontinent en die gemeenskaplike uitdagings wat ons in die gesig staar, is dit paslik om die video vry te stel as dankbetuiging aan alle werkers wat essensiële dienste lewer. Hierdie brawe mense staan aan die voorpunt van die stryd om ons almal teen die pandemie te beskerm. Ons salueer hulle as helde en hoop dat hierdie boodskap van hoop hul hande sal sterk.”
Toe die projek van stapel gestuur is, was PJ Powers dadelik aan boord. “Ek was verheug toe dié virtuele projek die lig gesien het, aangesien die positiewe boodskap van ‘A World in Union’ in hierdie onseker tye meer toepaslik as ooit tevore is. Hierdie keer het ek dit benader met die gedagte van hoop en genesing. My wens is dat dit ’n plek sal vind in die nasie se harte terwyl ons dié onseker weg bewandel.
“My boodskap aan alle essensiële werkers daar buite is dat Suid-Afrika op hulle staatmaak. Hul dapperheid, deursettingsvermoë en harde werk word raakgesien. Ek bedank hulle uit die diepte van my hart. Mag hulle geseën word en die las binnekort ligter raak.”
Die virtuele werkswyse was vir Powers ’n nuutjie. “Om ’n hele koor op so ’n groot skaal te betrek was een van die opwindendste dinge waarby ek tot nog toe betrokke was. My persoonlike ervaring van die inperking is dat ek elke dag probeer om nie moed op te gee nie. Soms slaag ek daarin; ander kere nie.
“Wat ek vir seker weet, is dat vrees en bekommernis nie ons probleme gaan wegneem nie; dit beroof ons eerder van die vrede wat ons in die toekoms beskore is. Aan die mense van Suid-Afrika en die kontinent: Ons het ons vermoë om uitdagings die hoof te bied al oor en oor bewys. Hierdie keer is dit ook so.”
Karina Erasmus, dirigent van die Tygerberg-kinderkoor, vertel van die opwinding en uitdagings tydens die opnameproses. “Die koor het dadelik die geleentheid aangegryp om saam met ’n Suid-Afrikaanse legende te sing. Ek het geen twyfel gehad dat die kinders ’n sukses daarvan sal maak nie. Omdat ons tydens die staat van inperking nie toegelaat word om saam te oefen nie, bring hierdie projek vir ons ’n sonderlinge geleentheid om ’n boodskap van hoop aan die wêreld uit te dra.”

Lede van die Tygerberg-kinderkoor het die volgende gesê oor hul ervaring van die projek:
Grace Hallet (12): “Hoewel dit ’n uitdaging was, het ons dit gedoen gekry met baie vasbyt en my ma se hulp.”
Carla Heydenrych (14): “Dit was groot pret – al het die voëls gesing en ’n kat teen my been probeer opklim tydens die opname.”
Gomolemo Matlho (12): “Ek moedig die hele wêreld aan om veilig te bly in hierdie tyd. Daar is lig aan die einde van die tonnel.”
Megan Lourens (13): “Vir my is die video saam met PJ Powers baie spesiaal, want dit is ’n pragtige lied. Musiek raak ons almal aan die hart, en ‘World in Union’ doen presies dit. Dit herinner mense oral in die wêreld dat daar hoop vir ons almal is.”
Die Suidoosterfees het onlangs met die CTMA saamgespan om soortgelyke projekte tot stand te bring. Een daarvan, David Kramer se #Tsekcorona-video saam met die geselskap van Kaapkreools, het binne ’n dag nadat dit vrygestel is, soos ’n veldbrand versprei.