Met Suid-Afrikansers nou in ’n staat van inperking as gevolg van die Covid-19-viruspandemie, is
verskeie feeste en vertonings uitgestel, onder meer David Kramer se KaapKreools –’n
musiekproduksie vervaardig deur die Cape Town Music Academy (CTMA), wat op 27 April in die
Kunstekaap by die Suidoosterfees sou debuteer. Maar die KaapKreools-vervaardigers en -geselskap
het besluit die vertoning moet voortgaan te midde die krisis!
Om Kapenaars onder korona-huisarres se gemoedere in dié uitdagende tyd te lig, het hulle ’n aanlyn
video-weergawe van een van die produksie se liedjies, “Welcome to Cape Town” gemaak. Kramer
het die lirieke ’n bly-by-die-huis boodskap gegee en saam met die CTMA ’n heupswaai-musiekvideo
geskep, waarin KaapKreools-musikante en ’n groep van Kaapstad se bekendste en gewildste
kunstenaars verskyn.
Kramer is opgewonde oor dié initiatief: “Ek en wyle Taliep Petersen het ‘Welcome to Cape Town’
geskryf. Die idee was om besoekers aan te moedig om na Kaapstad te kom en om die Kaapse gees te
geniet. Maar vandag, as gevolg van Covid-19, het ons geen besoekers nie en die strate is leeg – die
totaal teenoorgestelde beelde as was wat die liedjie gevier het. Dit het my die idee gegee om die
lirieke te herskryf en so ons huidige situasie te beskryf. Ek hoop dit sal bietjie vreugde en humor
bring in hierdie vreemde tye.”
Die #TsekCorona!-video is geheel en al op selfone verfilm. Benewens die KaapKreools-musikante,
spog die video met van Kaapstad se bekendste kunstenaars, wat saam met lede van die Kaapse
publiek ook hulle video’s ingestuur het om te wys hoe hulle in en om hul huise pret het deur in
isolasie te dans.
Kykers kan uitsien na videogrepe van komediante Marc Lottering, Louw Venter, Rob van Vuuren en
Pietman Geldenhuys; akteurs Dean Smith, Theodore Jantjies, Nadia Valvekens, Ivan Zimmerman en
Amalia Uys; RSG radio-aanbieder Martelize Brink en musikante Donovan Copley, Frazer Barry,
Babalwa Mentjies, Albert Frost, Nick Turner, Luna Paige en Ramon Alexander.
Met talle feeste en vertonings nou gekanselleer of uitgestel, is die vermaaklikheidsbedryf behoorlik
in ’n krisis gedompel en bevind baie musikante hulleself sonder werk. Met dié dat KaapKreools een
van die Suidoosterfees se programhoogtepunte sou wees, was die fees gretig om betrokke te raak
by die #TsekCorona!-initiatief.
Suidoosterfees se uitvoerende hoof, Jana Hattingh, het ’n bemoedigende boodskap vir bekommerde
kunstenaars en gehore: “Feeste is komplekse sisteme met verskeie rolspelers, waarvan kunstenaars,
gehore en borge die belangrikste is. Baie dankie aan ons borge wat saam met ons planne maak vir
die uitgestelde fees. Dankie aan ons kunstenaars vir innoverende idees; ons sal steeds ’n platform vir
julle bied en wyses ondersoek waarop ons julle kan bystaan om dié onvoorsiene ontwrigtingstydperk
te oorbrug. Dankie aan ons gehore vir julle ondersteuning; bly tuis en bly veilig sodat ons later saam
kan feesvier!”
Vicky Davis, medevervaardiger en programbestuurder van die CTMA, meen ’n initiatief soos hierdie
kan heelwat gewig dra. “As maatskappy sonder winsbejag wat geleenthede vir kontemporêre
musikante in die Wes-Kaap skep, is ons deeglik bewus van die impak van Covid-19 op die bedryf. Vir
die Suidoosterfees alleen sou ons elf vertonings vervaardig het – dit sou heelwat werk aan talle
kunstenaars en tegnici voorsien het. Maar met hierdie inisiatief skuif ons die fokus eers na ons
sosialemediaplatforms, waar ons ’n relevante, positiewe impak kan maak saam met die kunstenaars
wat by ons produksies betrokke sou wees.” Davis het mense wat belangstel om ’n donasie te maak
of hulp aan musikante wat deur die pandemie geraak is te verleen, aangemoedig om die CTMA te
kontak.
“Ons is baie tevrede met die eindproduk en is trots dat dit op radio tussen ander tradisioneel
vervaardigde liedjies kan speel,” meen medevervaardiger en KaapKreools se baskitaarspeler, Schalk
Joubert. “Die wonderlike ding van tegnologie is dat ons nie ingeperk hoef te wees gedurende hierdie
uitdagende tyd nie, ons moet bloot aanpasbaar bly – beperking noodsaak innovasie.”
KaapKreools sal later vanjaar by die Suidoosterfees opgevoer word.