Liewe Heksie en die Wals

Dis ‘n eerste vir die Boer Restaurant Teater; sy eie kinderteaterproduksie.

Die teks is geskryf deur eienaar Margit Meyer-Rödenbeck, wat ook die rol van Levinia Heks vertolk. “Dis vir my heerlik om terug te gaan na daar waar ek begin het in die teater. Ek het op ‘n stadium so baie die rol van die liewe heks vertolk, dat ek selfs in my slaap soos sy begin praat het.”

Die Boer se splinternuwe bestuurder, Deon van Zyl, wat ook ‘n honneursgraad in Drama het, vertolk die rolle van Koning Rosekrans, Karel Kat en die nare Geelheks in die storieteaterweergawe van Liewe Heksie. En om te bewys die produksie 100% “tuisgebak” is, vertolk die Boer se eie teaterkat Mot, die rol van Matewis.

Haai oe julle stoute kabouters, wat gebeur as Liewe Heksie deelneem aan Blommeland se eie Strictly come dancing? Weet sy dan ooit wat ‘n wals is? En wat gebeur as Levinia die belangrike taak kry om die Silwerroos op te pas? Die Geelheks wil so graag haar kloutjies op die Silwerroos kry, sodat al die blomme in Blommeland kan doodgaan. Maar Liewe Heksie sê sy beskerm die Silwerpapawer met haar lewe.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar