Lefra Produksies doen hierdie Desember gestand aan hul leuse “Lefra vermaak Suid-Afrika” met twee produksies op toer deur KwaZulu-Natal.  Die jongspan kan eerste nader skuif, want Liewe Heksie en haar kaboutermaats kom kuier met twee lekker stories in een vertoning!  En dan in Groet die Grotman 2, spesiaal vir paartjies, word die verskille tussen mans en vrouens op komiese wyse uitgebeeld deur Grotman Phillru van Achterbergh.  Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksies sê dat hulle heelwat versoeke van Kwazulu-Natal kry vir Afrikaanse produksies.  “Dit is altyd lekker om van die Natallers te hoor. Juis daarom het ons besluit om gedurende die vakansieseisoen met Heksie en Grotman te toer.  Ons hoop om die ondersteuning van vakansiegangers en Natallers te kry, want dit is perfekte vakansievermaak.” sê Swart.   

Die produksies besoek die iZulu-teater by die Sibaya Casino & Entertainment Kingdom in uMhlanga op Vrydag, 13 Desember en die Umfolozi Hotel Casino Convention Resort in Empangeni op Saterdag, 14 Desember.  Liewe Heksie begin om 10:00 op beide dae, en Groet die Grotman 2 om 19:00.  Volgende aan die beurt is die Wild Coast Sun in Port Edward op Dinsdag, 17 Desember met Liewe Heksie om 14:00, en Groet die Grotman 2 om 20:00. 

Verna Vels se geliefde Liewe Heksie, wat terloops op 42 April verjaar (ja, 42!), kruip geslag ná geslag diep in kinderharte.  Sy sukkel soms met lang woorde, maar gelukkig is Blommie die Kabouter en haar geliefde Mattewis die kat altyd naby om te help.  Voor pouse word Liewe Heksie en Botterblom opgevoer.  Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf.  Maar Botterblom is kwaad.  Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam.  Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans.  Na pouse is dit dan Liewe Heksie en die Tuindwergie, waar ons Casper die tuindwerg ontmoet.  Toe Casper die tuindwerg op ’n dag wakker word in Liewe Heksie se tuin, is daar drama van begin tot einde.  Want wie is dit agter daardie boom? Kan dit ’n stoute Gifappeltjie wees?

In Groet die Grotman 2 is ditvyftien jaar later.  Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle?  Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings.  Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte.  Die verskille tussen mans en vrouens is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vrouens van Venus.  Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie.  Daar is ‘n ouerbegeleiding van 16 (PG16).

Vrouens is steeds die gaarders (veral van nuttelose inligting!) en mans steeds die jagters (van ‘n bok tot ‘n televisieprogram).  “Mans en vrouens lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak” sê Frans, ook skrywer en regisseur van die produksie.  “Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ‘n komiese wyse.  Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies.”

Swart sê dit was nog altyd belangrik om teater na die mense toe te bring.  “Van ‘n baie klein begin 30 jaar gelede het Lefra Produksies gegroei tot een van die mees bekende handelsmerke op die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidslandskap” sê Swart.  “Lefra was destyds aan die voorpunt om Afrikaanse teater in Suid-Afrika te laat herleef”.  Lefra se Afrikaanse weergawe van Rob Becker se Defending the Caveman, in Afrikaans as Groet die Grotman (regisseur Sandra Prinsloo, 2005), hou steeds die rekord van die Afrikaanse produksie wat die langste en meeste opvoerings in Suid-Afrika gehad het, met meer as 1 000 vertonings. oor tien jaar.  “Lefra vertolk die rol van die destrydse streeksrade en bring teater na die mense toe”, sê Frans.

Vermaak jou hele gesin hierdie Desember met Liewe Heksie en Groet die Grotman 2 in KwaZulu-Natal: eerstens is die iZulu-teater by die Sibaya Casino & Entertainment Kingdom aan die beurt op Vrydag, 13 Desember en daarna die Umfolozi Hotel Casino Convention Resort op Saterdag, 14 Deseber.  Liewe Heksie begin om 10:00 op beide dae, en Groet die Grotman 2 om 19:00.  Volgende aan die beurst is die Wild Coast Sun op Dinsdag, 17 Desember met Liewe Heksie om 14:00, en Groet die Grotman 2 om 20:00.  Bespreek sommer nou by www.LTickets.co.za.

Lewer kommentaar

Leave a Reply