Lippetaal is losweg gebaseer op ´n ware verhaal wat – afhangend van jou persoonlike sensitiwiteite – tegelykertyd komies, hartseer, en ´n bietjie makaber is.
In Lizz se nuuste eenvrou stuk bekyk sy ´n tema waarvan die mensdom wegskram: die fyn lyn tussen jou verpligtinge as (volwasse) kind teenoor jou ouers, en die reg om jou eie lewe te lei. En dan boonop die behoefte van sogenaamde “normales” in “gestremde” gesinne, om weg te breek van hulle verantwoordelikhede.
Die hoofkarakter is Una, die enigste “normale” kind in ´n gehoor- en siggestremde gesin. Sy kom, nou ´n volwasse vrou, na jare in die buiteland terug Suid-Afrika toe. Om haar humor, hartseer, angs, skuldgevoel, woede en verwarring oor haar herkoms in die gesig te kom staar. Maar by haar aankoms word sy gekonfronteer met iets totaal onverwags.
Die titel van die stuk (vir Lizz gegee deur bekende radioman, televisie-persoonlikheid en stemkunstenaar, Cobus Robinson) verwys na lip lees, die manier waarop gehoorgestremdes die horendes se gesprekke volg Patos, ironie, maar bowenal fyn humor word in die verhaal verweef met onverbloemde menslikheid.
Lizz Meiring was verantwoordelik vir die teks en die regisseur van die stuk is Annelise Bosch.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
