Mummenschanz is terug

Mummenschanz, die fenomenale Switserse teatergroep, wat internasionaal erken word vir hul unieke teater van die verbeelding, sal Pretoria, Kaapstad, Port Elizabeth, Durban en Johannesburg onderskeidelik vanaf 22 Februarie tot 17 April 2011 vir hul tweede Suid-Afrikaanse toer besoek.

Die groep het in die 1970s ‘n unieke, nie-verbale teaterstyl ontwikkel en het sedertdien wêreldwyd gehore in vervoering. Hulle visuele teaterbeeldspraak verskuif alle kulturele grense en maak hul vertonings toeganklik vir enige iemand, ongeag sy herkoms.

Tydens hul vertonings manipuleer die akteurs ‘n verskeidenheid fabelagtige karakters wat uit alledaagse materiale geskep is. Sommige van hierdie glyende, wriemelende gediertes is selfs so groot soos ‘n klein motor!

In ‘n reeks kort sketse neem die figure byvoorbeeld persoonlikhede aan wat van die mens se beste en slegste eienskappe uitbeeld, in situasies waarmee almal kan identifiseer. Die resultaat is ‘n hoogs vermaaklike, visueel oorrompelende vertoning vol verrassings, wat almal van 5 tot 95 se lagspiere sal kielie.

Die woord Mummenschanz, direk vertaal, beteken mombakkies en het sy oorsprong van die gewoonte van soldate in die 18de eeu, wat maskers gedra het om hul emosies vir hul opponent te verberg tydens ‘n kaartspel.

Deur die jare het die groep verskeie kunstenaars beinvloed, o.a. Cirque du Soleil. In lg. se vertoning Ovo, verskyn daar ‘n reuse “Slinky Man”, wat Mummenschanz dan ook spesiaal op aanvraag vir hulle gebou het.

Mummenschanz

Mummenschanz het pas ‘n hoogs suksesvolle speelvak in New York afgesluit, waar hul vertoning o.a. bestempel is as “awe-inspiring”. Vanaf Oktober 2011 sal hulle op toer wees om hul 40ste bestaansjaar te vier.

Mummenschanz, die meesters van illusie, tree op vanaf 22 tot 27 Februarie in die S.A. Staatsteater (Pretoria), 1 tot 19 Maart in die Baxter teater (Kaapstad), 29 Maart tot 3 April in die PE Operahuis (Port Elizabeth), 6 tot 10 April in The Playhouse (Durban) en 12 tot 17 April in die Joburg Theatre (Johannesburg). Besprekings by Computicket. Kaartjiepryse van R 149 tot R 299.

Besprekings: Computicket

Kaartjiepryse: R149, R189, R219, R249, R299

Halfprys voorskou: Di 22 Feb – SA Staatsteater / Di 1 Mrt – Baxter Teater / Di 29 Mrt – PE Operahuis / 6 Apr – Durban Playhouse / Di 12 Apr – Joburg Theatre

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply