Vanjaar se splinternuwe klug is My Boetie se Boetie se Boetie se Baba deur Ray Cooney en sy seun Michael. Dit is een van Londen se West End se mees suksesvolle klugte.
My Boetie se Boetie se Boetie se Baba spog met top spelers soos Ana van Achterbergh, Botha Enslin, Cindy Swanepoel, Cobus Venter, Dirk Vermeulen, Duncan Johnson, Francois van Rensburg, Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh. Voor die produksie amptelik bekend gestel word tydens vanjaar se Oppiwater Kunstefees 2015 aanboord die MDC Opera vanaf 9 tot 13 Maart, bied Lefra Produksies voorskoue teen minder as halfprys by die Springs Stadsteater aan vanaf 26 tot 28 Februarie vanjaar.
In My Boetie se Boetie se Boetie se Baba ontmoet ons vir Tom Koekemoer (Cobus Venter). Hy en sy vrou Linda (Cindy Swanepoel), is opgewonde oor die vooruitsig om ‘n baba aan te neem. Al wat nog moet gebeur is ‘n besoek deur die maatskaplike werker (Marga van Rooy), ‘n paar vrae moet beantwoord word en die baba is hulle s’n. Maar dinge werk nie so uit nie. Nie eers naastenby nie. Terwyl Tom ‘n gerespekteerde middelklas bestaan voer, kan dieselfde nie van sy broers Dick (Botha Enslin) en Harry (Francois van Rensburg) gesê word nie. Dis nie dat die broers nie na aan mekaar is nie, maar om te sê dat die driemanskap twee-derdes disfunksioneel is, is voor die handliggend. Dick het pas teruggekeer van Zimbabwe met gesmokkelde sigarette en brandwyn, en Harry probeer ‘n kadawer in Tom se tuin begrawe. Om sake te vererger, maak twee onwettige immigrante (Ana van Achterbergh en Dirk Vermeulen) hulle verskyning, die preutse maatskaplike werker daag op, ‘n knaende polisiekonstabel (Duncan Johnson) kry snuf in die neus en die skobbejak Boris (Phillru van Achterbergh) kom kry sy betaling, en wat volg is een groot deurmekaarspul!
Met: Ana van Achterbergh, Botha Enslin, Cindy Swanepoel, Cobus Venter, Dirk Vermeulen, Duncan Johnson, Francois van Rensburg, Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh
Regisseur en Vervaardiger: Frans Swart
Teks: Ray Cooney en Michael Cooney
Vertaling en Verwerking: Frans Swart
Stel: Hugo Hewitt
Springs Stadsteater, Hoek van Tweedelaan en Sewendestraat, Springs
Donderdag, 26 Februarie om 19:00 | Vrydag, 27 Februarie om 19:00 | Saterdag, 28 Februarie om 19:00
Besprekings: Computicket by 0861 915 8000 of www.computicket.com
Groepe van meer as 10 en gasvryheidspakkette: skakel 011 815 3000 of e-pos admin@lefra.com
Lewer kommentaar