Nuwe baadjie vir KKNK

Die Absa KKNK kry in 2013 ’n nuwe baadjie. Dié kunstefees word vir die 19de keer van Vrydag, 29 Maart tot Saterdag, 6 April 2013 op Oudtshoorn aangebied.

In ’n groot verandering verskuif die Huisgenoot Musiekplaas na jare weer terug na die REC (Oudtshoorn Krieketstadion) en drie groot musiekkonserte word oor die eerste drie aande van die fees daar aangebied.

In die Rivierbuurt gaan feesgangers kennis maak met die splinternuwe 10 tot 10-verhoog, waar ’n breë spektrum van Afrikaanse musiek van 10:00 tot 22:00 gehoor kan word. Ook in die Rivierbuurt sal feesgangers steeds kan luister na die gewilde Top 40-verhoog, met sy program van kontemporêre Suid-Afrikaanse musiek. Groepe wat reeds vir hierdie verhoog gekontrakteer is, sluit in The Rockets, Dr. Victor and the Rasta Rebels, Emo Adams en Take Note, asook Idols Crushanda en Karin Kortje.

“Die fokus is in die Rivierbuurt op gehalte gesinsvermaak, teen ’n baie bekostigbare prys,” sê Theo Kemp, programbestuurder van die Absa KKNK. “Die Rivierbuurt gaan in 2013 daagliks van 10:00 tot 22:00 ’n uitspanplek vir gesinne wees met ’n keuse van gewilde musiek, smullekker feeskos, yskoue drinkgoed, ’n inkopieparadys met ongeveer 400 stalletjies, ’n pretpark en ander speletjies vir adrenalienverslaafdes. Om die Rivierbuurt toeganklik te hou, sal toegang vir vergeselde kinders onder 15 weer gratis wees. Die opsie van ’n feeskaartjie, wat vir die duur van die fees gebruik kan word, sal ook aangebied word.

Tieners kry in 2013 hul eie, eksklusiewe uithangplek, Johnny Biskit’s sal daagliks van 13:00 tot ounag bedryf word, met produksies gemik op tieners en ’n dans elke aand na afloop van die laaste vertoning. Tussen vertonings kan tieners uitspan in ’n gerieflike slapsit sitkamer. Geen alkoholise drank sal by die venue verkoop of toegelaat word nie en toegang kan slegs verkry word as jy kan bewys jy is onder die ouderdom van agtien. Johnny Biskit’s word aangebied in samewerking met Hennie van Greunen en Pedro Kruger en meer inligting sal later beskikbaar wees.

Volgens Kemp word die skedulering van produksies in teaters ook vereenvoudig, sodat feesgangers makliker hul programme kan saamstel.

kanna-beeldIn ’n verdere stap om die Absa KKNK meer gebruikersvriendelik te maak, word daar gebou aan identiteite by die onderskeie teaters. “Deurbraak bied aan jong professionele kunstenaars, wat ’n voet in die deur van die bedryf wil kry, kans kry om hul talente uit te stal in ’n verskeidenheid van genres. Saans kry nuwe musiekgroepe en skerpskertsers hul kans op ’n deurbraak,” sê Kemp.

As nie-verbale teater in jou smaak val, is Baanbreek, in die Suid-Kaap Kollegesaal die plek vir jou. Die kykNET Hoërskool-saal is weer die tuiste van eersteklas komedie en die Absa Burgersentrum van omvangryke musiek-produksies. Die Prins Vincent –gebou bly die tuiste van die kunsuitstallings.

Die volledige teaterprogram word op die oomblik saamgestel en word op 8 Januarie 2013 versprei aan lede van die Absa KKNK se lojaliteitsklub. Besprekings vir lede open op 21 Januarie 2013 by Computicket. Die volledige program sal op 24 Januarie 2013 op die Absa KKNK se webtuiste beskikbaar wees. ’n Pamflet met die volledige program sal in die week van 28 Januarie 2013 in tydskrifte, soos Huisgenoot, beskikbaar wees.

Vir meer besonderhede of verblyfbesprekings besoek die webtuiste van die Absa KKNK by www.absakknk.co.za of kontak die kantoor by 044 203 8600.

Lewer kommentaar

Leave a Reply