Romantiese Giselle

Die asemrowende romantiese ballet, Giselle, open op Vrydag 25 September by Kunstekaap in Kaapstad en gehore kan uitsien na optredes deur voorste dansers van die Koninklike Ballet in Londen en Kaapstadse Stadsballet (KSB).


Giselle is een van die mees geliefde ballette van alle tye. Die boeiende verhaal van ‘n jong meisie wat sterf weens ‘n gebroke hart, en dan terugkeer as ‘n bonatuurlike wese om haar minnaar te beskerm, gryp gehore al vir meer as 170 jaar aan. Die ballet het onmiddelik groot publieke byval gevind toe dit in 1841 vir die eerste keer in Parys opgevoer is, en geniet tot vandag toe wêreldwyd aansien as een van die mees gereeld opgevoerde ballette.

Met hierdie speelvak van Giselle bou die KSB weereens voort op hul samewerking met van die voorste internasionale balletgeselskappe. In die hoofrolle van Giselle en Prins Albrecht maak Hikaru Kobayashi en Federico Bonelli van die Koninklike Ballet in Londen hul buiging tydens twee vertonings. Die egpaar, wat verlede jaar in die KSB se produksie van Swanemeer te sien was, word huidiglik beskou as een van die mees opwindende dansvennootskappe.

Tydens die ander vertonings sal Kaapstadse Stadsballet hoofdansers Laura Bösenberg en Angela Hansford afwisselend in die die rol van Giselle gesien kan word, en Thomas Thorne en Daniel Szybkowski as Prins Albrecht. Claire Spector en Jesse Milligan sal tydens twee vertonings hul debuut maak in hierdie rolle.

Myrtha, die bose Koningin van die Wilis, word onderskeidelik deur Kim Vieira, Rosamund Ford en Jane Fidler gedans, terwyl die rol van Hilarion deur Xola Putye, Ivan Boonzaaier en Conrad Nusser gedeel sal word. Die rol van Bathilde word vertolk deur Janet Lindup, dié van Giselle se moeder deur Leanne Voysey, en die Hertog deur Johnny Bovang.

Die meesleurende produksie word onder leiding van Elizabeth Triegaardt opgevoer en die oorspronklike kostuumontwerp is deur Peter Cazalet behartig. Sewe van die nege vertonings in die Kunstekaap Operahuis sal begelei word deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, o.l.v. die bekende dirigent Graham Scott.

Die geliefde romantiese ballet, Giselle, word deur die Kaapstadse Stadsballet opgevoer by Kunstekaap in Kaapstad vanaf 25 September tot 4 Oktober. Kaartjies vanaf R100-R300 is beskikbaar by Computicket of Bel-‘n-Sitplek by 021 421 7695.

Vertonings en rolverdelings:

Vry 25 September @ 19:30 – Hikaru Kobayashi en Federico Bonelli

Sat 26 September @ 14:00 (met klankbaan) – Angela Hansford en Daniel Szybkowski

Sat 26 September @ 19:30 (met klankbaan) – Laura Bösenberg en Thomas Thorne

Son 27 September @ 15:00 – Hikaru Kobayashi en Federico Bonelli

Woe 30 September @ 19:30 – Laura Bösenberg en Thomas Thorne

Vry 2 Oktober @ 19h30 – Claire Spector en Jesse Milligan

Sat 3 Oktober @ 14h00 – Laura Bösenberg en Thomas Thorne

Sat 3 Oktober @ 19h30 – Angela Hansford en Daniel Szybkowski

Son 4 Oktober @ 15h00 – Claire Spector en Jesse Milligan

Laura Bosenberg & Thomas Thorne
Laura Bosenberg & Thomas Thorne

(foto Pat Bromilow-Downing)

Lewer kommentaar

Leave a Reply