Sirkus

Lizz Meiring vier 30 jaar in die bedryf met ‘n splinternuwe stuk.


Aan die einde van Voortrekkerstraat, oorkant die oranje huis met die geriffelde glas voordeur, staan die tent. ‘n Groot swart, geel en groen gestreepte tent. Helder, aanloklik en snags, as die liggies aangesit word, en die leeus se brulle deur die dorp weergalm, kan mens jouself verbeel dat dit dalk betowerend is. Maar onder die flappe van die tent broei daar dinge. Iemand is vermoor. In die stilligheid. In die donker. ‘n Wrede dramatiese dood. Niemand buite die binnesirkel van die verligte tent weet nie, en dis hoe dit gaan bly. Maar iemand se gewete pla hom en êrens op Ermelo soek ‘n ma haar dogter.

In ‘n splinternuwe nael-bytende pikswart-komedie met Lizz Meiring, uit die pen van Wikus du Toit ontmoet ons vir (onder andere) Nelda Susanna Albertyn, ’n 19-jarige maagd, Ouma Sara Albertyn wat vertel hoe sy haar drie voortande verloor het, Joachim (JZ) ‘Groot’ Zefferelli, die sirkus-baas met die goue karavaan, Madame Emmanuel Nathi, ‘n lesbiese hondeafrigter wie se Ma eens ‘n koei opgestop het vir ‘n Hindu familie in Lenasia, Aaron ‘The Sloth’ Sledi die Zambiese Albino Jongleur wat mal is oor mediese films en wie se lewe gered is deur ‘n tamatiekoek, Saskia, Hector, Brümilde, Lillie en Fillies die bobbejaan. Daar’s die klarinetspeler wat al honderde babaskoene van perdesterthare geknoop het, Gregoire wat die leeus afrig en graag in ryp kakiebosse rol, Skottel , die dwerg wat onder sy bed in ‘n emmer slaap en sy eie waaier geprakseer het deur ‘n tros torre met vislyn aan sy dak te hang. Hulle almal is die vreemde spul karakters wat probeer sin maak met hulle verdraaide lewens in die sirkus. Daai groot groen, geel en swart sirkus waar dinge glad nie pluis is nie.

Lizz Meiring vertolk al die sirkusmense, sy snuffel in almal se kaste en verlede en doen al haar eie toertjies. Van ‘n waaghalse koordlooper tot ‘n klein Chinese lyfverdraaierstoertjie waartydens sy haarself binne minute in ‘n Fon-Kong “LV”-tassie kan in- (en uit)pak.

In ‘n klank, lig en kostuum spektakel-karnaval-sirkus, vier Lizz Meiring haar 30 jaar as een van Suid-Afrika se voorste akteurs.

Regie deur Melt Sieberhagen.

Lizz Meiring in Sirkus
Lizz Meiring in Sirkus
27 en 28 Februarie 2013 – Centurion Teater Pretoria

8 – 10 Maart 2013 – Woordfees, Stellenbosch

3 – 6 April 2013 – KKNK

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar