Die jeugdrama, Skrum, uit die pen van skrywer/regisseur André Bester, volg in die voetspore van die aangrypende jeugdrama Anderkant die Yard, waarvan die speelvak in 2003 by die KKNK en Aardklop uitverkoop was. Die akteurs van die Hoër Jongenskool Paarl is vir die tweede agtereenvolgende jaar genooi om by Aardklop op te tree.
Skrum is ´n multimedia rugbydrama waarin Rugby as spel/leefwyse op skool- en Cravenweekvlak ondersoek word. Bester het die teks geskryf na ´n reeks onderhoude met senior Cravenweekspelers, die kaptein van die huidige SA O.19-span en breiers van Cravenweekspanne.
´n Oefengroep waaruit die finale Cravenweekspan saamgestel word, trek saam vir afronding. As gevolg van die afsondering loop die frustrasie hoog. Skrum fokus op ses spelers wat saamgegooi word – hulle word gekonfronteer met die praktiese implikasies van ´n kwotastelsel, opkikkertoetsresultate, dieetversteurings, opgeblase ego’s en ‘n breier wat alles weet. In wese fokus Skrum op menslike aspekte soos selfverwesenliking, heelwording en groepdinamika.
Die ses akteurs, almal leerders aan die Hoër Jongenskool Paarl, se ouderdomme wissel tussen 15 en 17 jaar. Die visuele materiaal, wat deel van is van die produksie, sluit in ´n onderhoud met Corné Krige, eertydse Springbokkaptein, waarin hy prontuit praat oor kwotastelsels op Cravenweekvlak. Heelwat aksiemateriaal uit skolewedstryde word ook vertoon.
Hierdie opwindende jeugdrama moet nie misgeloop word nie; dis sexy, kontemporêr, robuus, uitdagend en erg manlik.
