The Dog’s Bollocks oorkom taalgrense by KKNK

Die skreeusnaakse een-man fisiese-teater komedie The Dog’s Bollocks, sal op die 2013 ABSA KKNK planke wees vanaf 30 Maart to 2 April.


Regisseur Rob Murray (FTH:K & UBOM) en akteur/outeur Gaëtan Schmid het hulle kreatiewe kragte saam gesmee om hierdie unieke teater gebeurtenis te skep, wat primêr ‘n viering is van die mens se behoefte om te kommunikeer, en begeerte om verstaan te word.

The Dog’s Bollocks speel af in ‘n klaskamer waar ‘n eksentrieke Professor, afkomstig van een of ander naamlose Oos-Europese land, nie kan wag om sy passie vir die geskiedenis van die Engelse taal in sy baie besondere en eienaardige doseer-styl te deel nie. Sy Engels is, om die minste te sê, nie baie goed nie. Sy woordeskat is baie beperk en hy moet dikwels ‘n bisarre mengsel van mimiek en gebare aanwend om effektief met die gehoor te kommunikeer, met histeriese gevolge.

Na ‘n kort opsomming van die geskiedenis van die Engelse taal, analiseer die Professor komiese (en dikwels absurde) situasies wat veroorsaak kan word deur taal misverstande. Dit lyk dan of ‘n hamburger ‘n persoon moet wees, en ‘n hotdog, wel … is dit dan nie ‘n warm hond nie?

The Dog’s Bollocks het ‘n uitverkoopte speelvak gehad by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad (2006 – 2008), asook by die Kalkbaai-teater (2006 & 2007), Intimate Theatre (2007), Die Witness Hilton-kunstefees (2008), Woordfees (2008) en Fofame (2008).

Gaëtan Schmid is ‘n Belgiese teater-kunstenaar wat tans woon en werk in Kaapstad. Na sy teaterstudies by die École Internationale de Theâtre Jacques Lecoq in Parys, Frankryk het hy regoor die wêreld getoer en by feeste opgetree met opwindende nuwe skeppings. Sedert sy aankoms in Suid-Afrika 13 jaar gelede, produseer, skep, skryf en voer Schmid sy eie oorspronklike een-man-produksies op, met The Dog’s Bollocks, Rumpsteak en Body Language die nuutse drie. Laasgenoemde twee produksies is in vorige jare met groot sukses by die KKNK ontvang.

Gaëtan Schmid in The Dog's Bollocks
Gaëtan Schmid in The Dog’s Bollocks

As gevolg van die professor se gesukkel om homself uit te druk in Engels, en sy fisiese oplossings om inligting te kommunikeer, is hierdie produksie baie geskik vir een van die KKNK se doelwitte, namens om ook produksies op die planke te bring wat die beperkings van taal kan oorkom.

The Dog’s Bollocks sal vier optredes by die Absa KKNK hê, in die Griesselsaal in Oudshoorn, vanaf 30 Maart – 2 April. Kaartjies kos R90, beskikbaar by Computicket. Kom terug klaskamer toe en lag saam oor hoe kommunikasie in ons land ‘n daaglikse uitdaging is.

Na die speelvak by die Absa KKNK, sal The Dogs Bollocks ook op die planke wees by die Kalkbaai-teater (21-27 April 2013).

KKNK 2013

Lewer kommentaar

Leave a Reply