‘n Platsak KKNK

Jy hoef nie die laaste paar sente uit jou spaarvarkie te skud om die Absa KKNK vanjaar te geniet nie.


Daar is verskeie konserte en programme wat feesgangers gratis kan bywoon, om nie eers te praat van die straatfees in Baron van Reedestraat en die 20 besonderse kunsuitstallings nie.

Gratis feesplesier sluit die volgende in:

RYMKLETS van OOS tot WES
Hip-hop aanhangers kan hul lywe kom skud by die gratis konsert RYMKLETS van OOS tot WES. Van die beste rymklets-kunstenaars kom wys hul hip-hop vernuf. Gewilde name soos Hemelbesem, die youtube-sensasie en karwag Alan, die MC’s Earl en Agemi, asook die plaaslike gunstelinge Meli Grey & Gino sal te sien wees.
Donderdag 4 April om 18:00 by Die Vredestraat Sportterrein.

RSG-verhoog
By die RSG-verhoog kan jy die nuwe asook immergewilde kunstalent kom ontmoet. Kom luister na lekker musiek, goeie stories en gewilde omroepers wat direk van hier af gaan uitsaai. Gesprekke met onder andere Elizma Theron, DJ Ossewa en Nicholis Louw sal plaasvind en musiek van onder andere die Kannie Warrie Boereorkes en Draadkar sal sorg vir ‘n lekker luim.
Die RSG-verhoog is daagliks voor die CP Nel-museum.

Skrywers en hul stories
Feesgangers kan kom luister na verskeie gesprekke met bekende skrywers en storievertellers. Karin Brynard en Leon van Nierop gaan vertel hoe hulle lesers uit die slaap hou met hul spanningsverhale, en die bekende joernalis Adriaan Basson (assistent-redakteur van City Press) vertel meer oor sy nuwe boek, Zuma Exposed. Ander gewilde skrywers soos André P. Brink en Willemien Brümmer sal ook agter die mikrofoon inskuif.
Daagliks in die Rembrandtsaal.

KKNK straattoneelStraatfees
Baron van Reede-straat gaan vanjaar omskep word in ‘n gratis speelpark vir die kunste. Verskeie dans- en musiekoptredes sal die straat versier met klanke wat wissel tussen Hip-Hop, Jazz, Blues en selfs Gospel. Stuur jou verbeelding op hol met verskeie drie-dimensionele straatkuns en straatspesifieke skilderye terwyl akteurs jou gedagtes onverhoeds kan prikkel. In die warboel van klanke, kleure en vere kan jy kom afpak in die rustigheid van ‘n zen-tuin.
Daagliks in Baron van Reede-straat.

Teatergesprekke
Gesprekke met bekende teaterpersoonlikhede gee ‘n blik op die lewe agter die verhoog. Saartjie Botha en Jaco Bouwer gesels oor Balbesit, hul nuwe drama wat rugby na die verhoog toe bring. Sandra Prinsloo vertel meer oor haar lang pad in die televisie- en teaterbedryf in ‘n gesprek met die aktrise en vervaardiger, Alexa Strachan. Die rooi neus van die hanswors, objekteater, kinderteater, die sake wêreld agter die teater en dinge wat gehore laat lag, is ook onder die soeklig tydens die gesprekke.
Rembrandtsaal en Katjie van die Baan Kafee.

Die Beiteltjie-program — aangebied deur RSG en Sanlam
Luister na bekroonde hoorbeelde en radiodramas uit die SAUK se klankargief. Skop jou skoene uit, klink ‘n glasie en drink die woorde in van letterkundige reuse. Jy sal onder andere kan luister na Adam Small wat van sy eie gedigte lees, Johann Nel wat Dana Snyman se Anderkant die scrap voorlees en Ina Strydom se hoorbeeld Verna Vels.
N.A Smit Kamer in die CP Nel-museum.

Kunsuitstallings
Die Absa KKNK spog vanjaar met 20 kunsuitstallings. Diane Victor is die feeskunstenaar en haar pragwerke sal gratis te siene wees by die Victoria Memorial Hall (Anglikaanse Kerksaal) in Baron van Reedestraat. Die 19 ander visuele kunsuitstallings sal ook gratis te siene wees in die Prince Vincent-gebou. Dit gaan ‘n paradys vir visuele kuns liefhebbers wees.

KKNK 2013

Lewer kommentaar

Leave a Reply