Wêreldpremiere van nuwe ballet in Kaapstad

Die feeverhaal van ‘n bliksoldaatjie se liefde vir ‘n papierballerina is die storie vir ‘n splinternuwe ballet wat op 11 Desember 2013 sy wêreldpremiere in Kaapstad sal hê. The Tin Soldier word deur Robin van Wyk, die artistieke direkteur van die Kaapse Stadsballet gechoreografeer en waarborg die perfekte gesinsvermaak vir die komende feesseisoen.


Gebaseer op Hans Christian Andersen se klassieke verhaal, The Steadfast Tin Soldier, vertel dit die sprokie van ‘n klein seuntjie wat vir Kersfees ‘n stel bliksoldate present kry, waarvan een soldaatjie ‘n af been het. Om middernag word al die speelgoed in die seuntjie se speelkamer lewendig. Die bliksoldaat raak verlief op ‘n beeldskone papierballerina wat in ’n glaskasteel woon. Die bose Jack-in-the-Box skop die soldaatjie uit die speelgoedkamer en hy gaan op ‘n avontuurlike reis waartydens hy verskeie fantasievolle karakters soos ’n reuse vis, ‘’n flankerende kok en waterfeetjies ontmoet. Wanneer die seuntjie die bliksoldaatjie weer opspoor, neem hy hom na die speelgoedmaker om hom te laat regmaak. Die speelgoedmaker wys die seuntjie ‘n betowerde plek in sy winkel, waar die speelgoed lewendig word.

The Tin Soldier word gedans op die beeldskone musiek van die gevierde Russiese komponis Alexander Glazunov. Allan Stephenson, wat die verwerkings vir orkes behartig, sal die Kaapse Filharmoniese Orkes tydens uitgesoekte vertonings dirigeer.

Die rol van die bliksoldaat word vertolk deur Thomas Thorne, Daniel Szybkowski, Jesse Milligan en Ivan Boonzaaier, terwyl Laura Bosenberg, Angela Hansford, Kirstel Jensen en Elizabeth Nienaber in die rol van die ballerina te sien is.

The Tin Soldier word aangebied by die Kunstekaap Teatersentrum en vorm deel van die Kaapse Stadsballet se feesseisoen-aanbiedings saam met Belles and Beaux, wat van 18-22 Desember opgevoer word, asook Night & Day, wat op Oujaarsaand open en tot 11 Januarie 2014 te sal wees.

Besprekings kan gemaak word by Computicket of Kunstekaap-bel-‘n-sitplek by 021 421 7695. Kaartjies 125-225. Spesial afslagpakette beskikbaar vir groepe van 10 of kombinasie-kaartjies vir meer as een vertoning van die Kaapse Stadsballet.

The Tin Soldier
The Tin Soldier

Opvoerdatums vir The Tin Soldier
Woe 11 Des @ 19h30 met KSO*
Vry 13 Des @ 11h00 met klankbaan
Vry 13 Des @ 19h30 met KSO
Sat 14 Des @ 14h00 met KSO
Sat 14 Des @ 19h30 met KSO
Son 15 Des @ 15h00 met KSO
Maan 23 Des @ 19h30 met KSO
Di 24 Des @ 14h00 met klankbaan
*KSO = Kaapse Filharmoniese Orkes

Hoofrolbesetting vir The Tin Soldier
11 Des 19h30 Laura Bosenberg, Thomas Thorne
13 Des 11h00 Elizabeth Nienaber, Ivan Boonzaaier
13 Des 19h30 Angela Hansford, Daniel Szybkowski
14 Des 14h00 Kirstel Jensen, Jesse Milligan
14 Des 19h30 Laura Bosenberg, Thomas Thorne
15 Des 15h00 Elizabeth Nienaber , Ivan Boonzaaier
23 Des 19h30 Angela Hansford, Daniel Szybkowski
24 Des 14h00 Kirstel Jensen, Jesse Milligan

Kaapse Stadsballet se Kersseisoen 2013-14 by Kunstekaap
The Tin Soldier: 11 – 24 Desember 2013, Kunstekaap Operahuis
Belles and Beaux: 18 – 22 Desember 2013, Kunstekaap Operahuis
Night & Day: 31 Desember 2013 – 11 Januarie 2014, Kunstekaap Teater

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar