Karel Kraai en Sarel Seemonster trek asem in en roep: “Bennie! Bennie Boekwurm!”
Die kinders van die land roep net so hard saam. Bennie Boekwurm kruip verstrooid uit sy boektonnel.
“Haai, waar’s julle? Ek kan julle nie sien nie, wag, ek gaan gou my bril haal.”
“Nee, Bennie!” Lag Sarel Seemonster, “jou bril sit op jou voorkop.”
Vir agtien jaar het dié toneel hom in Suid–Afrika afgespeel en was Karel Kraai, Sarel Seemonster en Bennie Boekwurm die kinders van die land se maatjies. En nóú is die sommer hier naby jou op die verhoog: WIELIE WIELIE WALIE.
Weereens is dit geskryf deur Louise Smit, die skepper van die oorspronklike reeks.
Dié Wielie Wielie Walie is propvol grappies, liedjies en stories en verskaf ’n uur se heerlike kykgenot.
“Ek probeer altyd die kinders emosioneel saam met my vat”, sê Louise Smit. “behalwe al die prettigheid, leer die jong kykers hoe om te deel en lekker saam te speel. Hoe sê Bennie? As jy van jouself hou, hou jou ook sommer meer van jou maatjies.”
Dan word daar ook kennis gemaak met ’n weeskwaggatjie wat sy intrek in die Wielie Wielie Walie – parkie kom neem:
“Goeiedag! Goeiedag!
Ek is Wagga Wagga Kwag!”
Dié nuwe karakter, Wagga Wagga Kwag, sal net soos Karel Kraai, Sarel Seemonster en Bennie Boekwurm diep in almal se harte inkruip.
“Die hele wêreld vra vir Wielie Wielie Walie,” sê Dulinda Pieters, assistant – regisseur. “Ons kry e – pos van oraloor wat daarvoor vra. Die ma’s van jong kinders wat daarmee grootgeword het soos ek, wil dit saam met ons kinders beleef. Daar is ’n vraag na die standaard en integriteit van Wielie Wielie Walie. Dis eintlik volksbesit.”
By die Boer restaurant teater in Durbanville op Maandag, die vakansiedag 2 Mei om 13:30. Kaartjies is R50-00 en beskikbaar by 021 979 1911 of 083 406 0111.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

