Wilde Willemientjie, ‘n walvis, ‘n seerower en die maan!

Die klein, wilde meisietjie met sproete en ‘n slangetjie in haar woeste rooi hare het voorwaar nou al deur die hele Suid-Afrika gereis, maar nou vertel sy en haar vriende van ‘n penarie met ‘n seerower, ‘n vreemde tog na die maan en nog vele meer.

Die Avonture van Wilde Willemientjie, deur Riana Scheepers, was ná die bekendstelling by verlede jaar se fees die topverkoper in die Boekeparadys en vir maande daarna ook in baie boekwinkels regoor die land. Die musikale verwerking van dié teks, soos vervaardig deur Niël Rademan en sy talentvolle span, is ook verlede jaar bekroon met ‘n gesogte Kanna-toekenning.

Wilde Willemientjie is musikale kinderteater uit die boonste rakke wat spog met ‘n sterbelaaide rolverdeling van jong, bekroonde akteurs. Dit is ‘n energieke, vrolike en interaktiewe opvoering gemik op kinders van alle ouderdomme – kinders ouer as 60 moet net lekker uitrus, want geen verantwoordelikheid vir algehele uitputting sal aanvaar word nie!

Teks: Riana Scheepers
Regie en musiekregie: Niël Rademan
Verwerking: Adriaan Meyer
Stelontwerp en -versorging: Jacolene de Haan
Met Lindi Smit, Deon van Zyl, Burnese Cronje en Niël Rademan.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar