deur Ferdi Wheeler
Almal op die kampus van die ouetehuis het die vreemdeling as die langverwagte nuwe nutsman beskou. En hy het nogal soos ‘n nutsman gelyk, omdat hy ‘n staaltrommel en ‘n aluminiumleer by hom gehad het. Buitendien het Sussie by Onderhoud al dae gelede vertel dat die nuwe kêrel daardie dag sou begin. So het hy dan die blok aftreewoonstelle in die middel van die kampus betree, wat 10 woonstelle huisves. By nommer 6, die klein enkelwoonstel van ou Wyman, het hy ingegaan sonder om te klop, wat duidelik aandui dat hy van Wyman se afwesigheid geweet het.
Binne het hy vinnig gewerk en die twee gloeilampe in die plafon, met twee li-fi-geaktiveerde gloeilampe, wat hy in die trommel weggesteek het, omgeruil. Hy is egter op heterdaad betrap, want hy was net besig om die lampskerm terug te sit, toe ou man Wyman instap.
Wyman het sy knapsak vol kruideniersware op sy bed neergegooi, sonder om sy oë van die nutsman af te neem.
“Wat was verkeerd met die ou gloeilampe?” het hy gevra.
“Net roetine. Ons installeer nuwe gloeilampe, wat minder elektrisiteit gebruik.”
“En jy is?
“Ek is die nuwe nutsman,” sê die vreemdeling, tel trommel en leer op en stap na die deur toe.
“Maar ek wil dit hê!” het Wyman gesê.
Die vreemdeling, of die beweerde nuwe nutsman, wat jy ook al verkies, het deur die deur verdwyn en homself klein gemaak op pad na ‘n bakkie wat by die veiligheidshek-ingang geparkeer was. Hy het sy toerusting op die bakkie gelaai en agter die stuur ingeklim. Daarna het hy ‘n nommer op sy selfoon geskakel.
“Dit is Roger,” het hy gesê toe die telefoon aan die ander kant beantwoord is. “Die oë is in. Alles puik!” het hy gesê en die oproep beëindig.
Twee kilometer verder, in ‘n wolkekrabber van dertig verdiepings hoog, het die ontvanger van die oproep, die Direkteur van Tegniese Dienste van die Spioenasie departement van die Republiek van Suid-Afrika, Alan Lerato, haastig na die moniteringskamer gestap. Die kamer was ‘n groot plek met rekenaarskerms wat die hele een muur bedek het. Voor elke skerm het ‘n operateur gesit.
Hy het na die operateur gestap wat die stroom uit ou Wyman se woonstel moet monitor. “Wys my wat jy het,” het hy die operateur beveel.
Die operateur se vingers het oor die sleutelbord voor hom begin dans en die volgende oomblik het die skerm lewe gekry. Ou Wyman kon gesien word waar hy sy kruideniersware wegpak.
“Onnutsige Wyman, ons het jou hierdie keer,” het Direkteur Lerato triomfantlik uitgeroep. Hy wou-wou net loop, toe daar meteens ‘n verwikkeling op die skerm is. Iemand het aan Wyman se deur geklop. Die versteekte kameras het gewys hoe hy die deur oopmaak en na ‘n man met ‘n leer en ‘n trommel kyk wat in die deur staan.
“Goeie môre, meneer. Dit is mnr. Wyman, is dit nie.”
“Korrek.”
“Ek is nuut hier.”
“Dit is duidelik – ek bedoel: baie nuut. Jou voorganger het klaarblyklik ‘n kort raklewe gehad. Maar kom in. Ek raai jy is hier om die elektriese gloeilampe te vervang met twee wat ligter is op elektrisiteit?”
“Presies,” sê die nutsman en stap salig onbewus van sy voorganger by ou Wyman se woonstel in.
Wyman het twee en twee bymekaar gesit. Die eerste weergawe van die nutsman was skelmrig. Die tweede het homself aangekondig. Daarom het hy nommer twee laat begaan. Wat nommer een ook al probeer aanvang het, nommer twee sou ongedaan maak, het Wyman besluit.
Die nutsman het besig geraak om die leer op te stel en in sy trommel te vroetel vir die twee nuwe verbeterde gloeilampe. Toe klim hy op die leer om die takie te verrig.
In die moniteringskamer twee kilometer verder weg, skree Direkteur Lerato wanhopig: “Nee, jou idioot!” Maar hy was magteloos om die beëindiging van sy twee kameras in ou Wyman se plafon te keer. Die televisieskerm wys hoe ’n hand die twee slim gloeilampe losdraai en toe word die televisieskerm swart, waarop Direkteur Lerato hand wuiwend en gefrustreerd by die kamer uitstorm.
Terug by ou Wyman se klein enkelwoonstel, het die nuwe nutsman gegroet en geloop. Dit was die teken vir Wyman om voor sy skootrekenaar te gaan sit. Hy was ‘n skrywer en ‘n digter wat deur Direkteur Lerato gevrees en verag is. Maar dit het hom nie afgeskrik nie. In plaas daarvan het hy kragtig begin tik, terwyl die storie nog vars in sy kop was. Met ‘n gehamer op die sleutelbord begin hy die storie toe soos volg en met groot verbeelding vertel:
“Almal op die kampus van die ouetehuis het die vreemdeling as die langverwagte nuwe nutsman beskou…”