Die reuse Theuns Jordaan Tribute-konsert wat op Loftus Versfeld en die DHL Stadion voor skares van meer as 20 000 opgevoer is, kom op 9 Augustus 2025 Amsterdam toe.
Die Theuns Jordaan Tribute bring die room van Suid-Afrika se kunstenaars byeen in die Afas Live Arena in Amsterdam om hulde te bring aan die ikoniese Theuns Jordaan.
Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Ray Dylan, Dozi, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Jay du Plessis, Gerhard Steyn, Liezel Pieters, Dewald Wasserfal, Jacques du Plessis en Bok van Blerk lei die huldeblyk.
Die kunstenaars het Theuns na aan die hart gelê en sy lewenspad saam met hom gestap. Hulle gaan Theuns se liedjies laat herleef in ‘n uitnemende grootskaalse produksie wat deur gesoute vervaardigers Deedee en Floors Oostuizen sowel as Murray Lubbe behartig word in samewerking met Theuns se jarelange vriend Jacques du Plessis.
Du Plessis, wat vir byna vyftien jaar saam met Theuns opgetree het, sê die konsert is vir hulle uiters kosbaar en dis ‘n groot voorreg om dit in Amsterdam te kan aanbied. “Die kunstenaars wat deel is van die produksie is baie opgewonde en die publiek se reaksie is absoluut oorweldigend.
“Ons is almal in totale verwondering en ontsag vir die invloed wat Theuns op soveel miljoene mense gehad het. Sy nalatenskap is omvangryk,” sê Du Plessis.
“Dis ‘n baie spesiale konsert. Ons besef watter groot verantwoordelikheid op ons rus om Theuns se nalatenskap te eer. Ons gaan nie terughou nie. Dit gaan ‘n massiewe produksie en konsert wees, soos wat dit op Loftus en by die DHL Stadion was.
“Dit was besonders op Loftus en in die Kaapstad Stadion en dit gaan iets wees wat Amsterdam ook vir ‘n baie lang tyd sal onthou.”
Du Plessis sê aanhangers kan verwag om Theuns se gewilde “partytjie-liedjies” te hoor, sowel as liedjies wat in die beginjare van sy loopbaan uit sy pen gevloei het.
“Die kunstenaars wat deel is van die produksie is diegene wat Theuns se lewenspad saam met hom gestap het en hom werklik na aan die hart gele het.
“Ons is al genader deur soveel ander kunstenaars wat deel wil wees van die huldeblyk, maar elkeen kan natuurlik op sy eie manier hulde bring aan Theuns en sy liedjies laat voortleef,” sê Du Plessis.
Bobby van Jaarsveld, in wie se loopbaan Theuns ‘n beduidende rol gespeel het, sê dis vir hom ‘n groot eer om deel te wees van die Tribute. “Theuns was ‘n besonderse mens en vriend. Ek is baie opgewonde om weer op die verhoog te kan wees saam met hierdie kunstenaars en vir so ‘n besonderse geleentheid.”
Die besonderse eenmalige massa-konsert gaan op gepaste wyse die lewe en musiek van die legendariese Theuns Jordaan onthou en vier.
Die kapasiteit van Afas Live is 6000 en kaartjie-verkope is by https://www.tiqs.com/alfred/events/shop/4189

