Ons was arm daar in die Kouga tussen die berge. En Heindrich-hulle nog armer want ons het darem ´n lorrie gehad. As die lorrie ry, het Heindrich-hulle saam gegaan. Sommer so oop agter op die lorrie. ´n Tent was te duur.
Kom daar reën, klim almal onder ´n seil in. So ou groot spoorweg ene. As jy onder hom uitklim, is jy ene teerkolle. Jy´t gebid vir mooiweer.
Maar as dit nie gereën het nie, het jy elk geval soos ´n anosterbos gelyk van wind en stof. En soos ´n karriebessiebos gevoel. Seergekry omdat jy jy is. Al aandag wat jy kon verwag was die pogings waarmee mense jou probeer vermy.
Toe die eerste OK Bazaar onder in die hoofstraat van Port Elizabeth oopmaak gebeur dit so dat Heindrich-hulle saam met ons daar aandoen.
Om met ´n lorrie daar onder in die hoofstraat te parkeer was op sigself ´n aardigheid. As dit nog lyk of hy een of ander dorpie se pensioentrekkers met al hulle behoeftige bloedjies na die Groot Winkels aanry, het daar sommer asof vanself vir jou parkeerplek oopgegaan. Almal kon hulle jammerkry.
My pa was nie te dom vir ´n ou met standerd ses nie. Hy´t oorle oom Pootjies sy voete oor die agterkant van die lorrie se bak laat hang. As jy daai negentig grade inkyk-voete in opgeboude stewels wat soos klompe lyk gesien het, het jy gedink die ou kan nie loop nie en dan het mense sommer voor die winkel waar ons wou wees vir ons plek gemaak.
Oorle oom Pootjies was een van die saamryers wat daar in die Kouga gebly het. Daar was nog ander gewees wat my pa in noodgevalle gebruik het. Maar as die polisie hulle op die lorrie gesien het, het hulle my pa gestop. Want hulle wou dan vir my pa verduidelik dat die hospitaal op ´n anner plek is.
En daar was gewoonlik tussen agt en vyftien van hulle op die lorrie.
Hulle was almal van ´n klein gemeenskap naby ons plaas. Omdat hulle daar tussen die berge heeltemal afgesonder, sonder vervoer op mekaar aangewese was, en hulle ook hormone gehad het, het die gemeenskap onder mekaar ingeteel. Die resultate was nie baie aanskoulik nie, maar die harte was van goud. En ek glo steeds dat húlle die sout van die aarde is waarvan die Bybel praat. Vandag kry jy nie meer baie dat mense hulle broeke vir hulle bure sal uittrek nie.
Daai jare het die OK gedink dat almal wat die winkel inkom lekkergoed soek. Daarom het hulle die lekkers vlak by die ingang, ry-op-ry op rakke aan weerskante uitgestal.
Toe Heindrich instap, kon jy sien hy het nog nie eers oor so baie lekkers gedroom nie.
Hy het doodgeruk. Sy mond het in verbasing oopgeval. Sy oë het wyd oopgerek en hy het hulle ´n rukkie toegeknyp en toe hy hulle weer oopmaak en steeds al die lekkers sien, het hulle nóg wyer as voorheen gerek.
Toe Heindrich seker is dat sy oë nie vir hom lieg nie, steek hy sy elmboë sywaarts en spring op en af terwyl sy arms soos ´n jong voëltjie wat leer vlieg vlap. Sy oë het daai lekkers vasgehou asof hy bang was dit raak weg.
En hy skree uit volle bors, sonder om die ritme van sy vlieg-oefening te steur; “Jirre Ma! Koop. Koooop!”
skrywer: Izak Ferreira
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
