Oom Hansie kyk sy oorlede vrou se familie deur en besef vir die soveelste maal dat hy nie een van die mense kan verdra nie en elkeen van hulle met graagte ´n mes in die keel sal toedien. Die ergste van alles is dat die skoonfamilie Kerstyd diekant toe, plaas toe, wil karring. “Kwits, dis nou wragtag my deksel” dink hy by homself “kan die ellendige idiote nie sien ek verpes hulle nie”. Hy wens Vlekkie wil weer, soos laasjaar, teen swaer Nelius, skoonsus Emsie se man, gaan been lig. “Hehehe” lag hy by weer homself “die verwyfde klein boorwurm het homself behoorlik bebollie van bo tot onner”. Oom Hansie voel nou sommer stukke beter.
“Iemand vir ´n stukkie van Siena se vrugtekoek saam met die tee?” vra oom Hansie in die algemeen. Skoonsus Marinda hou haar poffer in die lug en die hamme onder haar arm tril van opwinding. Ook swaers Salie en Nelius knik instemmend. “Nou ja” glimlag oom Hansie vriendelik Aek gaan kry gou”. In die kombuis grinnik die ou behoorlik. Sy skouers skud soos hy lag terwyl hy deur die spensvenster loer vir die lot onder die peerboom. Hy haal die vrugtekoek versigtig uit die blik en sny nog ´n paar stukke af. Siena het dit in September al spesiaal vir die geleentheid gebak.
“Wel” sê Oom Hansie hardop. “Ou Vlekkie ons twee het darem ook in Oktober al gesorg dat die vrugtekoek klam gehou word met natuurlike water, vars uit onse lywe, spesiaal vir hierdie geleentheid.” Hy lag so dat hy eers in die spens teen die rak moet leun om weer tot verhaal kom.
Oom Hansie hou die groot bord met Siena se vrugtekoek soos ´n regte jintelman vir al sy gaste. Siena dra die skinkbord met tee en Vlekkie handhaaf ´n blymoedige teenwoordigheid.
“Nee sus Marinda” help oom Hansie neem twee stukkies. “Siena en ek het baie moeite gedoen en julle sal elke krummel moet opeet” Skoonsus Marinda lag vriendelik terug en neem drie. Elkeen op die ry af neem van die vrugtekoek en Oom Hansie straal soos >n graad een juffrou by die skoolkonsert. Selfs Vlekkie sit stil en kyk aandagtig van koeketer tot koeketer, een oor op en die ander af.
“Watse brandewyn het jy oorgegooi boet Hans?” vra skoonsus Hesmarie, die baasbakster-onderwyseres “ek kan proe dis spesiaal.”
“Man ou Hessie, hierdie resep sal julle nooit uit my uit kry nie, miskien eers op my sterfbed” sê oom Hansie en sy ogies blink. Die skoonfamilie glimlag vriendelik terug en knik hulle koppe. “Ja wat” sê skoonsus Hesmarie “´n Familieresep is darem ´n familiegeheim”.
“En my en Vlekkie se bydrae ook ja” lag oom Hansie by homself.
Oom Hansie vat een van die dennetakke wat hy op die tafel gesit het as Kersversiering en waai lui-lui na >n lastige vlieg. “Hans” vra swaer Tjoepie “eet jy dan nie saam nie, jong?”
Almal lag beskaafd. “Hehehehe” lag oom Hansie.
“Nee ou Tjoep, ek weet mos wat is daarin – ek sal dit nooit eet nie!” skater oom Hansie.
Almal lag beskaafd. “Hehehehe” lag oom Hansie.
“Volgende Paasnaweek kuier ons weer by jou op die plaas Hansie” roep swaer Mees.
“Verseker” sê oom Hansie.
Die volgende oggend staan die Oom moeilik op uit die bed, ten spyte van die skoonfamilie se afwesigheid. Hy het Kersdag in die kerk weer na die predikant se dogter geloer en nou is sy nek skoon styf. Hy wens net sy wou bietjie terugsit as haar pa bid, want dan kon hy mooi sien. Mens sou sweer die kind vermoed iets, want as die man sê “Laat ons bid” vou sy duwweld soos iemand wat te veel koue turksvye geniet het.
Oom Hansie steek ´n paar vars houte in die koolstoof en brand sy vingers op die deur. “Kwits Vlekkie” skreeu hy Akom weg hier onner my voete!”. Maar Vlekkie is lankal weg. Toe hy sien die ouman brand sy vingers het hy reeds die hasepad gekies – hy’s miskien ´n hond maar hy is mos nie dom nie.
“Sienaaaa!!!!” skree Oom Hansie oor die onderdeur. “Sienaaaa!!!!” “SIENAAA!!!” “SIENAAA!!!” “SIENAAA!!!” “Verdomp”
Oom Hansie stap maar self na die peerboom agter in die erf en begin fynhout kap vir die koolstoof. “Ek sal nog die hele verdomde lot hier wegja” mompel hy Ahier geld g=n grondwetbollie nie, hier geld die wette van Hansie”.
“More meneer” sê Siena vanuit die huis.
“Watse geverduiwelse meneer is dit!” brom hy “waar is jy as ek jou soek” Die Oom voel hoe sy bloeddruk styg soos ´n plestieksak in ´n bergwind. Ken net een pad en dis op en boontoe.
“Askies meneer” sê Siena “ek was besig om die meneer se brannewynbottels by die boks te pak soos die meneer gesê het”
“Kwits, jy los my bottels uit, hoor jy?” raas Oom Hansie “dis my enigste inkomste uit die plaas uit”. “En los nou maar die gemeneer!”
“Askies meneer” sê Siena geduldig Amaar die meneer het gesê Siena en Jonas mag nie vir die Bas sê Bas nie, ons moet vir die Bas sê meneer”. “Se voet” sê Oom Hansie, nou dik die duiwel in.
Oom Hansie laai die boks leë brandewynbottels agterop die bakkie en klim in. Na ´n kort rukkie se gevroetel klim hy weer uit en gaan soek die sleutels. Toe hy in die kombuis kom, sien hy dat die koffiewater nou kook. Hy maak maar eers koffie en gooi koffie, met baie melk, in Vlekkie se bak.
“Kom oubaas se honne” roep Oom Hansie. Vlekkie is egter steeds nie seker of hy dit onder die wastafel kan uitwaag nie, die ouman het dan netnou so lelik met Siena gepraat. Toe Oom Hansie die koffie neersit, sluip hy uit, stert tussen die bene en ruik aan die bak. “Kwits hont” skreeu oom Hansie, nou behoorlik woedend, “ek sal mos nie duiwelsdrek in die bak gooi nie!
skrywer: Bert van der Walt
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
