deur Ferdi Wheeler

Hy sê: ”Ma! Ma!”

Haar oë gaan oop. Die oë is treffend groot en blou. Maar hulle fokus nie op hom nie. Sy kyk inteendeel in die saal vir verswakte bejaardes, waarin sy lê, rond.

Hy raak aan haar skouer, maar dis asof sy die aanraking nie voel nie en sy sluit weer moeg haar oë. Dis vir hom duidelik dat sy broer reg is: sy is op haar laaste en die werklikheid registreer nie meer mooi in haar brein nie. Dit lyk of sy weer indut. Hy sug en gaan sit op die leunstoel wat langs haar bed staan. As dit dan nou moet, dan sit hy maar net so ‘n rukkie by haar.

Die saal het ‘n neerdrukkende atmosfeer. Daar’s ses beddens. Die bed regoor sy ma s’n bevat ‘n vrou wie se tone afgesit is. Twee ander in die saal het Alzheimers en die ander is op die drumpel weens blote ouderdom en gedaanheid.

Hy probeer om nie te staar nie. Kyk eerder na sy ma se slapende gesig, terwyl hy in die stoel terugleun.

‘n Vroulike versorger kom binne stap om sy ma se bed, sodat sy aan die oorkant staan. Sy trek die deken waaronder sy ma lê reg. Sy doen alles sag, haar bewegings deernisvol.

Hy kyk na haar. “Middag,” sê hy. Die versorger kyk tersluiks oor die bed na hom. Sy ken hom van die baie vorige besoeke, weet sy naam is Bertie, maar vandag draai sy net ingedagte weg en stap by die saal uit!

Wat gaan vandag met almal aan? Wonder hy. Niemand lyk juis vreeslik gretig om te groet nie.

Hy wonder of hy nie maar eers moet loop en solank by sy broer gaan afpak nie. Hy’s immers al ‘n goeie twintig minute by sy ma se bed. Die rit van Bloemfontein na Johannesburg het hom moeg gemaak. Op 60 is hy nie meer so sterk nie en die grootstad se druk verkeer werk mens se sake. Hy sal maar by sy broer so ‘n bietjie skuins lê en dan weer teen die aand se kant terugkom. Miskien is sy ma dan by.
Die volgende oomblik kom die ouetehuis se matrone en ‘n versorger egter in die saaldeur staan. Beide kyk stip na sy ma.

“Sy slaap nou,” sê die versorger en kyk vraend na die matrone.

“Ek sien ja,” sê die matrone. “Maar ek sal haar moet wakker maak en vertel. Ai! Die breek van die soort nuus word nooit makliker nie. Sy sal moet weet haar seun Bertie is ‘n uur terug in ‘n ongeluk dood.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply