deur Ferdi Wheeler

Maandag. Dis laat – so net na elfuur.  ‘n Vrou sit in ‘n nagklub en tokkel-tiekel op die klavier op die verlate musiekverhoog. Kort-kort neurie sy saam. Sy gooi haar arms wyd oop en lag uit haar maag uit. Dan slaan sy dawerend met haar hande op die klawers.

“Kom ons sing saam,” sê sy en dan hoog en skril:”Saaaam!”  Sy swyg momenteel en neem ‘n teug van haar brandewyn en Coke, wat op die klavier voor haar staan.

Die verhoog is eenkant van so ‘n vyftal klante in die kroeggedeelte van die klub.  Dis net mans en hul druk gesprek word onderbreek en hulle kyk noukeurig na die vrou agter die klavier. Almal behalwe ‘n kêrel wat in die verste hoek sit en hom met sy bier en gedagtes besig hou.

Die vrou draai op die klavierstoeltjie en beantwoord die vraende kyke uit die hoogte uit. Sy gooi haar kop agteroor. Haar lang swart hare val in ‘n vag teen haar nek af en sy pruil. Een vir een bekyk sy die wat oor die toonbank sit en hang. Die kroegman beduie met sy vinger waarskuwend na haar. Die manne lag onderlangs en hervat hul luidrugtige geredekawel.

“Ha!”  sê die vrou en neem nog ‘n slukkie.

Sy het sommer deur die loop van die aand daar aangekom. Modieus aangetrek met ‘n netjiese rooi tabberd, wit driekwart baadjie met groot sakke en glansende hoëhakskoene. Eers naby die man in die hoek gaan sit en ‘n drankie bestel. Toe nog een en nog een en toe het sy opgestaan en na die klavier toe gestap, waar sy nou nog sit. Maar sy bly net nog ‘n paar oomblikke daar.

Tydsaam staan sy op, neem haar groot handsak, swaai dit oor een skouer, neem die glas en stap half onseker oor die verhoog. Die stel trappies navigeer sy oorversigtig, struikel amper, maar maak dit dan tot op die dansvloer. Sy’s aan die randjie van die dansvloer toe sy stop. Met een teug ledig sy die glas en laat val dit aan skerwe op die vloer. “Oeps!”  sê en kyk uitdagend rond. Die kroegman stap langs die toonbank af en druk aan die onderpunt met sy hande op die tafelblad.

“Dis tien rand…” sê hy, draai om en stap weer die lang paadjie terug tot waar die mans skrum in die middel van die toonbank. “En die volgende een is twintig rand!” skree hy oor sy skouer.

Sy ignoreer die kroegman en stap heupswaaiend na die naaste punt van die kroegtoonbank toe. Sy haal haar beursie uit en tel ‘n klompie note op die toonbank af.

“Nog een, my vosperd,”  sê sy.

Die kroegman kyk skuins na haar. Hy wil iets sê, bedwing homself en skink vir haar nog ‘n brandewyn. Sy gooi die Coke by die brandewyn en hou die drinkers onderlangs dop. Almal het rooi gesigte. Hulle praat rugby. Die Bulls is die span wat ondersteun word.

“Op die Stormers,”  sê sy hard en vat ‘n teugie. “Hoekom is dit so stil… waar’s die musiek… kroegman.”

“Jy moet betaal as jy musiek wil luister,” sê die kroegman en beduie met sy wenkbroue na die jukebox teen die muur.  “Twee rand ‘n liedjie.”

Sonder om te aarsel, stap sy na die jukebox toe. Sy druk haar neus teen die elektroniese venstertjie om die instruksies te lees. Spoedig vibreer die klub van Countrymusiek.

In die skemerige lig van die dans-area begin sy by haarself te dans. Sy loer kort-kort skalks na die drinkendes by die toonbank. “Kom dans!”  roep sy.  Die kringetjie in die middel van die toonbank lag onderlangs en roer mekaar met die elmboë. Die man wat alleen aan die anderkant van die toonbank sit, draai momenteel om en bekyk die toneel. Dan draai hy weer terug na sy bier en sy weerkaatsing in die spieël agter die toonbank toe.

Een van die drinkers, ‘n lenige en aantreklike veertig jaar, breek van die groepie af weg en stap na die vrou toe.  Sonder dat hulle praat, neem hy haar hande en begin met haar dans. Sy laat glip een arm om sy boude en streel oor sy stuitjie. Hulle foxtrot in die skadurige atmosfeer van die dowwe gekleurde ligte. Die musiek wat sy gekies het, dans lekker.  Maar dan struikel sy en gryp hom desperaat om die lyf. Dit duur net ‘n paar sekondes voor sy haar ewewig herwin. Maar die gedansery stop. Die man stap breedarm terug na die toonbank toe. Die vrou volg hom na waar haar dop vir haar staan en wag soos sy dit gelos het. ‘n Teugie later besoek sy die damestoilet. Toe sy terugkom bestel sy ‘n rondte.

“Vir elkeen van die gawe kêrels hier, my vosperd,” sê sy vir die kroegman.

Die “vosperd” akkordeer nie met die kroegman nie, maar hy stribbel nie teë toe sy ‘n paar groot note in die lug rondwaai nie.

“Ook een vir die ou stille daar in die hoek,”  sê sy tersyde.

“Met komplimente van Mata Hari,”  sê die kroegman toe hy ‘n bier voor die stil man neersit.

“Ken jy haar?” vra die man.

“Nee, …eerste keer dat ek haar sien en ek werk al ‘n paar jaar lank hier.”

“Mmm, sy’s besig…,”  sê die man en swyg.

Die kroegman sug en kyk oor die toonbank heen waar die drinkers nou ‘n kringetjie om die vrou gemaak het. Sy is klaarblyklik besig om almal om haar pinkie te draai. Hy stap terug na hulle toe en frons agterdogtig toe die vrou oor die toonbank leun en met ‘n vinger vir hom beduie om nader te kom.

“Waar’s jou dop, my ding…? Ek betaal. Gooi vir ons nog ‘n rondte en sorg vir jouself ook,” sê sy en gooi note oor die toonbank na hom.

“Op Vicky!” roep die manne in ‘n koor uit en ledig hul drankies in afwagting op die aangekondigde bonus.

 Vicky.

Dis minder as ‘n uur voor sluitingstyd.  Die kroegman besluit daarom om homself ook te trakteer en hy skink.

In die tussentyd haak Vicky by een van die klomp – ‘n bonkige blonde man in en sleep hom dansvloer toe. Die man is ‘n trae danser. Hy kan nie vas dans nie en gooi net sy lyf lomp voor haar rond. Sy is egter nie links nie en kry hom om die lyf beet. Wat volg is meer ‘n rondvallery as iets anders. Op ‘n stadium is haar hande onder sy baadjie om sy lyf.  Die musiek stop egter skielik. Die man gryp haar om die lyf en stap laggend en styf teen haar na die toonbank toe terug.

“Sluitingstyd, daar’s nog net tyd vir een rondte,”  sê die kroegman.

“Ek betaal,” sê Vicky en sy tel die kleingeld op die toonbank. Ongeërg stoot sy dit oor die toonbank en die kroegman skink.

Noudat sy met twee van die manne ‘n draai op die dansvloer gemaak het, is sy gewild en die fokus van die manne se aandag. Dan, ewe ongeërgd, neem sy haar drankie en handsak en stap weg na die klavier toe. Hierdie keer gaan sit sy voor die klawers en tot almal se verbasing begin sy ‘n netjiese melodie te speel – ‘n paar vals note ten spyt.

“Jy moes eerder so gespeel het,”  sê die kroegman.

Sy skud net haar swart hare eenkant toe en stop. Sy gaap en gooi die laaste van die brandewyn in haar keel af.

Die kroegman sit die hooflig aan en af. “Dis tyd om te loop, menere,”  sê hy. “My lisensie laat my nie toe om langer oop te wees nie. Buitendien, julle almal het vrouens wat vir julle by die huis wag. Toe… sien julle vanaand as die son weer onder gegaan het.”

Die manne kyk tersluiks na die vreemde vrou Vicky.

“Tot siens, Vicky!” skree eers een en dan, soos hulle opstaan en loop roep die een na die ander:” Tot siens, Vicky!”

Die kroeg is meteens baie stil. Die kroegman kyk na die eensame ou in die hoek en dan weer na Vicky. Sy horlosie sê daar’s nog tien minute oor, maar hy is vodde en haastig om ook in die bed te kom. Die man is buitendien amper klaar. Tot sy verligting staan Vicky op en stap stadig terug met die verhoog af en aan en aan tot sy in die stoel langs die stil ou neersak.

Sy sit haar arm om hom. Sy gaap en bekyk hom.  Hy kyk uitdrukkingloos terug.

“Ek dink dis tyd dat jy huis toe gaan,”  sê hy. “Jy lyk vir my uitgewoed.”

“Ek wag net vir jou,”  sê sy en leun met haar kop teen sy skouer aan.

Hy gooi die laaste van sy bier in sy keel af.  “Kom my skat, laat ons loop. Die saamkommery kroeg toe is nie vir jou bedoel nie, maar o, wie is ek nou om te stry?”

Terwyl hulle omdraai en loop, haak hy by haar in en ondersteun haar.

“Tot wederom!”  skree die kroegman.  En toe hulle by die deur uitstap, kyk hy hulle agterna.

Net buite die deur stop hulle en die man soen haar vinnig en hard. Sy haak af en klap hom dat sy kop ruk. Hulle bly net daar staan en kyk intens na mekaar, terwyl hy iets vir haar sê. Dan gryp die man na haar handsak, maar sy hou dit agter haar rug. Hy laat hom egter nie keer nie en neem dit hardhandig van agter haar rug.

“So by my kool, wat gaan nou aan,”  sê die kroegman en hou die twee skadufigure voor die deur stip dop. Hy wou net na agter toe stap om ligte af te sit.

Die volgende oomblik sien hy egter hoe die stil man weer deur die deur kom en reguit kroegtoonbank toe stap. “Wag…”  sê hy en sit die handsak op die toonbank neer. In die neonlig voor die deur kan hulle Vicky sien staan.  Hy zip die handsak oop en vroetel daarin rond.  Hy haal ‘n beursie uit en sit dit eenkant. Dan haal hy twee ander uit en sit dit langs mekaar op die tafel neer.  Die kroegman kyk vraend na die beursies. Die man sit die beursie wat hy eerste uitgehaal het, weer terug in die handsak. “Dis hare,” sê hy met ‘n knik van sy kop in Vicky se rigting.  “Die res, of wat daarin oor is, kan jy vir die gekke teruggee.”

“Wat die duiwel…!” sê die kroegman en tel die twee beursies tentatief op. “Maar dis diefstal… Sy’s ‘n dief!”

“Verveeld,” sê die man. “Maar ek sal sorg dat ons nie weer hier kom nie. Goeienag!” Hy draai om en stap weer by die deur uit. Vicky gryp die handsak by hom, maar sy neem tog sy aangebode hand en saam stap die twee donker figure oor die straat, klim in ‘n motor aan die oorkant en oomblikke later is hulle straat af en weg.


Lewer kommentaar

Leave a Reply